MunicipalNews

Ondersteun Nigel se eie Spekboom-projek

Bykans almal het al van ‘n spekboom gehoor of gelees, maar waaroor gaan die bohaai werklik en hoekom is dié kleinblaar boompie so belangrik?

Spekboom (Portulacaria Afra) is ‘n inheemse immergroen plant, ook bekend as “Pork Bush” of “Elephant’s Food” en is ‘n waardevolle aanwins vir die planeet vanweë sy potensiaal om koolstofvrystellings soos geen ander plant aan te pak nie. Die spekboom is ook droogteverdraagsaam en beskik oor ‘n koolstofspons en uitstekende grondbindende flora wat gronderosie (veral die vermindering van waterverlies) verhoed en biodiversiteit verbeter. As jy die spekboom in jou eie tuin plant, is dit ‘n manier om die omgewing en klimaatsverandering te help. Die spekboom het die vermoë om tussen vier en tien ton koolstof per hektaar in te neem.

Dit werk soos ‘n spons wat koolstof uit die atmosfeer absorbeer. Oortollige koolstof in die atmosfeer is verantwoordelik vir aardverwarming, so hoe meer koolstof ons uit die lug kan verwyder en in die grond kan terugsit, hoe beter. Hektaar vir hektaar, is spekboom ruigtes meer effektief as die Amasone Reënwoud om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder.

“Hierdie ongelooflike plant behoort in elke Suid-Afrikaanse tuin te groei en daarom het ek besluit om ‘n plaaslike projek van stapel te stuur waarin inwoners genooi word om ‘n spekboom te plant,” het Nokkie du Toit gesê. As jarelange inwoner stap sy en haar man gereeld in die veld al langs die Blesbokspruit en het sy sodoende die gebied as ideale area vir die plant van spekbome geïdentifiseer.

Die spekboom is waterwys en verg min onderhoud. Dis maklik om te kweek, want selfs blare of stukkies van die plant wat op die grond beland, sal wortels maak. Die plant is droogtebestand en kan op 250 tot 350 mm water per jaar oorleef met baie warm somers. Tradisioneel vier Suid-Afrikaners Boomplantdag vanaf 1-7 September, maar vir maksimum impak ter bevordering van ‘n groen en gesonder planeet, word lesers genooi om die hele 2020 aan die plant van ‘n spekboom in hul eie tuine te wy.

Du Toit nooi skole, kerke, besighede en die publiek uit om ‘n spekboom te bekom. ‘n Nie-amptelike Spekboomplantdag sal later aangekondig wanneer dit op ‘n vasgestelde datum en plek geplant sal word.

Belangstellendes kan haar by 082 778 1139 skakel.

Related Articles

Back to top button