Crime Stop sekuriteitsdienste het op 8 Januarie die verdagte mans in Chrisstraat gewaar en Heidelberg polisie in kennis gestel. A/O Wollie Wolmarans en Sers Vusumuzi Zondo saam met lede van Heidelberg GPF was spoedig op die toneel.
Volgens lede van Crime Stop was die mans arrogant en het probeer weghardloop. Die verdagtes is vasgetrek en het erken dat hulle reeds vroeër die oggend staalstawe aan ‘n nabygeleë skrootwerf verkoop het. Die vyf mans is in hegtenis geneem en na Heidelberg Polisiestasie geneem waar profiel samestellings en vingerafdrukke geneem is.
Volgens Kaptein Thivhulawi Tshilate (polisiewoordvoerder) is die verdagtes later dieselfde dag vrygelaat weens tegniese redes. Die klaer in die saak is blykbaar vir ‘n onbepaalde tydperk uitstedig en gevolglik kan daar nie kriminele klagtes gelê word nie.
In nóg ‘n voorval op dieselfde toneel het die polisie onraad bemerk toe ‘n voertuig sonder nommerplate by die toneel stop.
Volgens inligting was die betrokke voertuig ‘n paar maande gelede amptelik geskrap. Gauteng verkeersafdeling is dienooreenkomstig van die voertuig in kennis gestel en die bestuurder van die voertuig het ‘n boete ontvang.