Lang gras en bossies in kerkhof krap inwoners om

Munisipaliteit reeds besig met skoonmaakproses.

Die slegte toestand van Heidelberg Begraafplaas het menige inwoners wie se geliefdes hier begrawe lê, warm onder die kraag.

Die gras en bossies staan heuphoogte en is besig om grafte toe te groei. Inwoners wie se geliefdes hier ter ruste gelê is, het hulle tot sosiale media gewend om oor Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om die begraafplaas in stand te hou, te kla.

 

HERAUT het met die Bekker-gesin van die Vrystaat gesels wat hul ouers se grafte op 5 Januarie besoek het. “Dis ‘n skande. Ons kan nie gereeld hier kom nie en dis nie die eerste keer dat ons die begraafplaas só aantref nie,” het Kobus gesê.

Kobus, Charmaine, Bertus en Moira het blomme op die grafte kom sit. Hulle moes eers self inspring om die grafte skoon te maak. “Ons kon nie ons ouers en suster se grafte so onversorg los nie en het toe maar self ingespring,” het Moira vertel.

Op sosiale media het ‘n inwoner foto’s van die oorgroeide kerkhof geplaas. Mirna Mulder ( DA raadslid) het geantwoord dat sy die begraafplaas op 3 Desember besoek het en dat amptenare van LPM se parke afdeling besig was om gras te sny en skoon te maak. “Ons was op 23 Desember weer daar en in die 20 dae tussen die twee besoeke was dit opmerklik hoeveel die gras gegroei het as gevolg van die milde reën wat Heidelberg ontvang het,” het sy geskryf.

HERAUT het die saak aan Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) rapporteer en sy het op 3 Januarie gesê dat sy aan die betrokke amptenare opdrag gegee het om so gou moontlik aan die saak aandag te skenk.

Solly Sibaya van LPM se Parke-afdeling het aan HERAUT gesê dat die munisipaliteit reeds besig is met onderhoud aan Ratanda se (passiewe sowel as aktiewe) begraafplase.

 

Exit mobile version