MunicipalNews

Atlete ontevrede oor toestand van stadion

Vir dekades lank het John Vorster Stadion in Nigel met sy reusepawiljoene en lowergroen grasperk as ‘n top gehalte sport fasiliteit bekend gestaan, maar deesdae is daar duidelike tekens van verval en gebrekkige instandhouding wat groot kommer onder plaaslike sportafrigters wek.

Die stadion wat onder City of Ekurhuleni (CoE)se parke-afdeling val, word veral vir skolesport soos atletiek en klubrugby benut en honderde voete besoek dié terrein daagliks.

Die stadion staan ook as Nigel Rugbyklub se tuisveld bekend en hoewel bestuur van die rugbyklub deurgaans alles in hul vermoë doen om die fasiliteit met hul eie fondse in stand te hou, bly dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die gras gereeld te sny en die bane te onderhou deur dit met grond op te vul.

Atlete en afrigters wat die stadion gedurende die vakansie ter voorbereiding van die opkomende atletiekseisoen besoek het, was egter geskok oor die algemene swak toestand daarvan (veral die atletiekbane) en het hulself die taak opgelê om die gras te sny en bane gelyk met grond te vul om ernstige beserings te voorkom.

“Ons het nie regtig ‘n keuse gehad nie want atlete moet tog oefen. Die stadion is ook die plek waar al die plaaslike skole se sportbyeenkomste aangebied word en nou word nie meer behoorlik in stand gehou nie,” het bekommerde afrigter en onderwyser van Hoërskool John Vorster, Klarinda Stander gesê.

Sy het haar tot HERAUT gewend, nadat twee van haar atlete tydens oefening snybeserings opgedoen het. Gebreekte bottels en glasskerwe op die oorgroeide grasveld was die oorsaak daarvan.

“Talle atlete ondervind ook dikwels skeen en enkelbeserings weens die harde en ongelyke baanoppervlak,” het sy gesê en bygevoeg dat die kwessie gedurende Desember onder die aandag van Wollaston Labuschagne (DA raadslid) gebring is.

Labuschagne het haar glo meegedeel dat die aangeleentheid gedurende Januarie (wanneer CoE personeel na hul poste teruggekeer het) dringende aandag sal geniet, maar onder atlete wat reeds ernstig met voorbereiding vir die atletiekseisoen begin het, heers daar groot kommer. Stander hoop ook dat die stadion gereed sal wees wanneer die skole op 15 Januarie heropen.

HERAUT het intussen ‘n navraag gerig en is in afwagting op kommentaar vanaf die munisipale woordvoerder.

Related Articles

Back to top button