Lesedi hof toe gesleep oor weiering om aansoek te hersien

Jordaanpark, Heidelberg wil buurt beveilig met toegangsmonitering.

Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) se versuim om Jordaanpark Forum se aansoek om toegangsmonitering te ondersteun (ondanks al die regte prosedures wat gevolg is) het daartoe gelei dat die saak op 9 Desember in die Johannesburgse Hooggeregshof gedraai het. ‘n Hofbevel is ten gunste van die forum uitgereik.
Willem Sprong sê die behoefte om Jordaanpark se in- en uitgangroetes te monitor, is in 2018 tydens ‘n inwonersvergadering bespreek nadat ‘n vlaag huisrowe en inbrake die buurt geteister het.
Die eerste stap was om ‘n maandaat te kry wat deur ten minste 80% van Jordaanpark inwoners en belanghebbendes soos Heidelberg Public School, ondersteun en geteken is. Die forum het ‘n totaal van 87% ondersteuning ontvang.
‘n Siviele ingenieur is aangestel om tegniese aspekte soos verkeer impakstudies, straatklassifisering, siviele ontwerp vir ligging van waghuisies en meer te hanteer. Die aansoek is in Januarie by LPM ingedien. Die stads- en streeksbeplanningsamptenaar van die munisipaliteit het in April laat weet dat die woongebied in dieselfde klassifisering as ‘n meenthuiskompleks val en dat die aansoek teen ‘n bedrag van R16 000 plus ‘n verdere R149 per erf sal beloop. Dit het op ‘n totaal van R87 000 neergekom.
Jordaanpark Forum het toe by ander Gautengse stadsrade gaan navrae doen en uitgevind dat die standaard tariewe vir soortgelyke aansoeke maar R2 500 beloop. Die munisipaliteit het geweier om die bedrag te verminder en die forum het by ‘n ingeligte bron verneem dat die LPM amptenaar in beheer van die aansoek aangedui het dat hy in beginsel nie die aansoek gaan ondersteun nie.
‘n Prokureur van Vereeniging wat in munisipale sake spesialiseer is in Augustus genader om die saak te beredder. ‘n Brief is beteken wat sê dat LPM aan die vereistes (wat ‘n SAPD vergadering insluit) volgens wetgewing moet voldoen en dat ‘n aanvaarbare aansoekbedrag vasgestel moet word.
Die forum het op 6 September ‘n advokaat aangestel om met ‘n hooggeregshofsaak teen die munisipaliteit voort te gaan. LPM is op 28 Oktober deur die hof in kennis gestel dat hulle binne vyf dae moet aandui of hulle die mosie gaan teenstaan. Ondanks die feit dat opposisie raadslede gewaarsku het dat ‘n hofsaak hulle duur te staan mag kom, het LPM steeds nie gereageer nie.
Sprong het verduidelik dat hulle om toegangsmonitering aansoek gedoen het en dat niemand verbied sal word om die buurt te betree nie. Tydens die skool se spitstye (tussen 07:00 en 07:30 en 13:00 en 13:30) sal die valhekke oopgelaat word. Die res van die tyd sal jy deur ‘n wag deurgelaat word, selfs al is jy nie ‘n Jordaanpark inwoner nie. “Dit is nie ons doel om mense toegang te weier nie, maar ons wil dit vir kriminele moeilik maak om ongehinderd uit te beweeg nadat hulle ‘n misdaad gepleeg het. Dit gaan oor die veiligheid van ons buurt,” het Sprong gesê.
Sprong sê die forum se regskostes beloop al by die R70 000 en dat hulle ook om ‘n kostebevel aansoek gedoen het om die onkoste van die munisipaliteit te verhaal. Hoewel ‘n hofbevel uitgereik is, wag die forum nog vir terugvoering of die kostebevel ingesluit is. Die bevel sal eers in Januarie (as gevolg van die feesseisoen) aan LPM beteken word.
Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) het aan HERAUT gesê dat sy instruksies gegee het dat die raad dringend aandag aan die saak moet skenk.

Exit mobile version