Diefstal van elektriese kabels bly uitdaging vir Lesedi

Straatligte in Heidelberg loop deur onder diewe.

Advokaat Gugu Thimane (waarnemende munisipale bestuurder) van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) sê die munisipaliteit probeer hul bes om die straatligprobleem op te los, maar word daagliks met nuwe uitdagings gekonfronteer.
“Die grootste probleem waarmee ons te kampe het is vandalisme en ons werk tans saam met verskillende belanghebbendes om die kwaaddoeners te rapporteer en vas te trek. Dit is veral diewe wat agter die koperdrade aan is, wat die kragbokse van straatligte oopbreek,” het Thimane gesê.
Dit kom nadat Heidelberg GPF ‘n e-pos aan LPM gerig het oor die toestand van veral Rensburg se straatligte. ‘n Verslag oor straatligte wat buite werking is, is deur die loop van Oktober en November saamgestel en daar is bevind dat slegs 47.9% van Rensburg se ligte werk. Van die statistieke wat in die verslag ingevoeg is, wys dat daar (op 3 November) 417 straatligte uit 871 buite werking was.
Die kontrakteur wat deur LPM aangestel is om die verouderde straatlampe met LED (light-emitting diode) te vervang, help ook met die herstelwerk en het ‘n volledige verslag aan Thimane gestuur. “Ons is in die proses om so veel moontlik straatligte te herstel waar drade gesteel is of (as gevolg van verouderde infrastruktuur en/of kortsluitings) gebrand het. Die Lesedi munisipale area is groot en ons probeer om in soveel gebiede moontlik te werk wat dit moeilik maak om al ons mannekrag in een woongebied te spandeer. Die feit dat ons oor net een hystoestel beskik, bemoeilik die taak verder,” het die betrokke departementshoof verduidelik.
‘n Volledige verslag oor Rensburg se straatligte is aan Thimane gestuur. Dit bevat datums en spesifieke besonderhede oor die betrokke skade/foute en hoe dit herstel is. Die lys is te lank om hier te noem, maar ‘n voorbeeld hiervan is dat die kontrakteurs op 20 November los drade aan twee straatligte in DF Malanstraat moes herstel. Die volgende dag is gevandaliseerde kragbokse van straatligte in dieselfde straat asook Jopie Fouriestraat herstel.
Op 25 November is herstelwerk aan verskeie ligte in Gabriël- en Romynstraat gedoen. Dieselfde dag moes die span ook in Ratanda gaan hand bysit. Dit lyk of elektriese drade in veral Jopie Fouriestraat gesteel word, maar in ander dele is dit weer laaghangende takke van bome wat kortsluitings veroorsaak. Die kontrakteur het ook hand bygesit om LPM met die afsaag van boomtakke by te staan.
Flip Minnaar (voorsitter) van Heidelberg GPF het ten spyte van die klagte oor die Rensburg straatligte, die raad gekomplimenteer oor die daadwerklike poging wat LPM aanwend om Heidelberg se straatligte op te gradeer en te herstel.

Exit mobile version