Blinde Tokka laat hom nie onderkry nie

Bejaarde loop Heidelberg vol met sy gidsstok.

Tokka Meyer (70) wat in die Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes woon, laat hom nie onderkry nie. Selfs nie die feit dat hy nege jaar gelede totaal blind geword het keer hom om op sy eie te woon en oor die weg te kom nie.
Tokka sit gemaklik op ‘n stoel op sy voorstoep waar hy besig is om ‘n draadkar te bou. Dié kundigheid het hy eers aangeleer nadat hy blind geword het en hy verbaas homself oor die onverwagse talent. Hy kan ook self kos maak en ‘n baksel aanmekaarslaan en dit alles sonder enige hulp.
Tokka hou van sy onafhanklikheid en inwoners is al gewoond daaraan om die bejaarde met sy gidsstok van die oord na die dorp te sien loop. Dit doen hy ook sonder enige hulp en maak hy gebruik van bekende geluide (soos honde wat blaf) en die sypaadjies se kurwes en ander bakens om in die dorp te kom.
Hy het sewe plekke in die dorp wat hy besoek en hy tel sy treë om seker te maak dat hy op die regte pad is. Tokka loop met gemak oor die laagwaterbrug in Maréstraat en sê hy kry daagliks werkers en ander voetgangers op sy pad wat nou al soos ou bekendes vir hom is.
“Die geheim is jy moet vroeg soggens loop voor die skelms uit hul gate kruip,” het Tokka met ‘n droë laggie vertel. Hy is egter een keer beroof toe hy op pad terug van die dorp af geloop het. Hy het by Shoprite inkopies gedoen en soos sy gewoonte altyd was, die R70 se kleingeld bo in sy hempsak gedruk.
In Merzstraat het hy vinnige voetstappe agter hom gehoor en toe voel hy net hande wat hier in sy hempsak vroetel. Tokka het die vent met sy stok probeer bykom, maar telkens misgeslaan. Hy het in die proses amper sy balans verloor. Die voetstappe het verdwyn, maar skielik weer teruggekom. Die hande het weer in sy sak gevroetel, “sorry” geprewel en toe weggesap. Dit is toe dat Tokka besef het dat die man R20 in sy sak teruggesit het. “Ek het net daar onbedaarlik aan die lag gegaan. Dit was vir my baie humoristies dat die skelm skaamkry dat hy ‘n blinde man besteel en toe maar ‘n ietsie teruggegee het van wat hy gesteel het,” het Tokka laggend vertel.
Hy sê hy waardeer dit as mense by hom stilhou en ‘n rygeleentheid aanbied, maar dit pla hom nie om alleen te stap nie. Hy knoop geselsies aan met ander voetgangers en as hy verdwaal luister hy na die honde se geblaf om te bepaal by watter huis en in watter straat hy hom bevind. “Wanneer die honde stil is, fluit ek sodat hulle begin blaf. Dan weet ek presies by watter huis ek is,” het Tokka gesê.
Hy is in Heidelberg gebore en het in verskeie dorpe gewoon voor hy in 2007 na Heidelberg teruggekeer het. Tokka was in die staalkonstruksiebedryf en het by die Departement van Openbare Werke gewerk. 15 Jaar gelede het ‘n staalkonstruksie op ‘n bouterrein op hom geval en die senuwees agter sy oë wat seine na die brein stuur, beskadig. Hy het drie operasies ondergaan, maar sy sig het al meer versleg tot hy nege jaar gelede totaal blind geword het.
“Aanvanklik was dit vir my moeilik om die pikswart donkerte om my te aanvaar, maar ek het later vrede daarmee gemaak.”
Hy bedank al sy mede inwoners by die oord asook inwoners van die hele Heidelberg wat hulle oor hom ontferm en wil help waar hulle kan. “Dit is ‘n riem onder die hart om te ervaar hoe behulpsaam en vriendelik ons dorp se mense is,” het Tokka afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version