Local newsNewsUpdate

Morsjorse maak buurman woedend

Chris Pereira en Richard Makhathini hou buurt skoon.

Chris Pereira wat in Arnoldistraat woon, sê hy is keelvol om ander mense se vullis op te ruim. Hy is ‘n netjiese man wat van ‘n skoon buurt hou en dit grief hom dat daar mense is wat nie omgee om hul vullis (selfs hondemis) op ‘n leë erf te gooi nie.

Chris woon teenaan Apseystraat waar hy en sy tuinman Richard Makhathini gereeld sakke vullis moet optel en wegry. Dit is egter die leë erf oorkant hom wat ‘n groot kopseer veroorsaak.

 

Hoewel hy nie weet aan wie die erf behoort nie, sny hy en Makhathini (met die hulp van nog ‘n buurman) gereeld self die gras en trek bossies uit. Dit maak hom egter warm onder die kraag oor die hope hondemis wat daar gestort word.

“Mens kan duidelik sien dat dit iemand in die nabye omgewing is wat hul eie erwe skoonmaak en die hondemis dan sommer hier op die leë erf kom stort. Dis groot hope wat hier gegooi word. Inwoners kom sit ook hul tuinvullis en vullissakke hier op die leë erf, wat ek dan moet wegry.

Man, as jy nie jou vullis self kan wegry nie, kom vra my liewer dan doen ek dit vir jou. Moenie dit op ‘n leë erf gooi en hoop iemand anders sal dit verwyder nie,” het ‘n ontstoke Chris gesê.

 

Richard Makhathini is Chris Pereira se regterhand en help om die buurt in Arnoldistraat skoon te hou. Hier tel hy vullis op wat deur mense op ‘n leë erf gestort is.

 

HERAUT het ‘n navraag aan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit oor die leë erf gestuur. Bywette bepaal dat die eienaar van ‘n onbeboude erf dit self moet skoonhou of dit omhein sodat dit nie as ‘n stortingsterrein gebruik word nie. ‘n Kennisgewing sal deur die munisipaliteit aan die betrokke eienaar gestuur word. Inwoners wat gevang word dat hulle vullis stort, kan ook ‘n boete opgelê word.

 

Related Articles

Back to top button