VF Plus nie tevrede met amnestieperiode

Die VF Plus het die minister van polisie (Bheki Cele) gevra dat die polisie self die skuld moet dra vir die meerderheid onwettige wapens en ammunisie in die land.

Net soos ‘n potlood nie op sy eie verkeerd kan spel nie, kan ‘n vuurwapen nie op sy eie doodmaak nie. Daarbenewens blyk dit uit onlangse parlementêre vrae wat die VF Plus aan die minister van polisie (Bheki Cele) gevra het, dat die polisie self die skuld moet dra vir die meerderheid onwettige wapens en ammunisie in die land.

Met dit as vertrekpunt moet gevra word wat die doel is van die voorgestelde amnestieperiode vir die inhandiging van vuurwapens. Die doel is volgens die regering om beslag te lê op onwettige vuurwapens om misdaad in Suid-Afrika te bekamp. Op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus enkele maande gelede het die minister egter geantwoord dat sowat 10 miljoen rondes ammunisie en 4 357 vuurwapens oor die afgelope ses finansiële jare verlore geraak het of gesteel is. “Dit is duidelik dat die polisie self die grootste verspreider van onwettige vuurwapens in die land is,” het Dr Pieter Groenewald (VF Plus-leier) gesê.

Daar was twee vorige amnestie-periodes. In 2005 is 80 500 vuurwapens ingehandig. Daarvan was sowat 34 000 onwettig. In 2010 se amnestie-periode is 42 000 vuurwapens ingehandig waarvan 11 500 onwettig was.  ‘n Parlementêre vraag aan die minister van polisie oor dié wapens het aan die lig gebring dat daardie ‘onwettige vuurwapens’ hoofsaaklik om tegniese redes as onwettig beskou is.

‘n Vuurwapen moet ballisties getoets word om te bewys dit is in ‘n misdaad gebruik, en die minister se antwoord was dat nie een van die sogenaamde onwettige vuurwapens wel deur ballistiese toetsing met ‘n misdaad verbind kon word nie.

“Die VF Plus sal daarom nie die amnestieperiode en die verslag steun nie. Die verslag is bowendien foutief aangesien die VF Plus in die parlement se portefeuljekomitee beswaar daarteen aangeteken het en dié beswaar word nie weerspieël in die verslag wat voor die parlement dien nie.Die amnestie teiken eienaars wat nie betyds aansoek gedoen het om die hernuwing van hul lisensies nie en die VF Plus het in die portefeuljekomitee gevra die minister moet dié aspek in ag neem. Dit is ‘n mite en ‘n leun dat die doel van hierdie amnestie is om misdaad te bestry. Om dit daadwerklik te doen, moet polisie die voorbeeld stel en sorg dat sy eie wapens en ammunisie behoorlik bewaar word,” het Groenewald afgesluit.

Exit mobile version