Local sportNewsSport

Meyer behou amateur gevegkunstitel in SA

HEIDELBERG - Francois Meyer, plaaslike gemengde gevegkuns (mixed martial arts) deelnemer, het Suid-Afrika vir die tweede agtereenvolgende jaar by die International Mixed Martial Arts Federation kampioenskappe in Bahrain verteenwoordig.

Dié toernooi het vanaf 11 tot 17 November by die Khalifa Sports City Arena plaasgevind waar Meyer deel was van die nasionale span wat kragte teen deelnemers van regoor die wêreld gemeet het.

Meyer is tans nommer een op die Suid-Afrikaanse ranglys in die amateur liggewig afdeling en na sy onlangse internasionale vertoning is hy derde op die algehele ranglys in die Midde-Ooste. Nadat hy Edim Bikim van Kameroen op die eerste dag van die toernooi met punte geklop het, het hy teen Abbas Khan van Bahrain te staan gekom, waar ‘n titansiese stryd hom in die kryt afgespeel het. Ná drie rondes was die telling gelykop en is daar toe op ‘n vierde en beslissende ronde besluit, aangesien die Bahrainse kroonprins in die voorste gestoeltes gesit het.

“Of die kroonprins se teenwoordigheid moontlik ‘n invloed op die finale puntetelling gehad het is ‘n ope vraag, maar na afloop van die vierde ronde is Khan as wenner aangewys,” het Meyer gesê.

Tog was die kampioenskappe vir hom ‘n onvergeetlike ervaring en hy het sy spanmaats, afrigters William Obertholzer, Clint Walters, JD du Plessis en Andries Schutte vir hul harde werk en toewyding bedank.

Meyer wat reeds met nasionale kleure spog, is lid van Ability Academy in Heidelberg en is deesdae besig met voorbereiding vir twee opkomende liggewig titelgevegte waarvan die eerste geveg (Road2Brave) op 6 Desember by Sibaya Casino in Durban plaasvind en die tweede op 8 Desember in Alberton.

Hoewel hy steeds in die amateur afdeling van gevegkuns meeding, hoop Meyer om binne ‘n jaar of twee die kryt as professionele gevegkuns atleet te betree.

Related Articles

Back to top button