Local newsNewsSponsored

2020 Skoleplasing chaoties, sê AfriForum

NIGEL/HEIDELBERG - AfriForum beskryf die Gauteng Departement van Onderwys se (GDO) 2020-skoleplasingsproses in ‘n persverklaring as chaoties en ’n burokratiese kleitrappery.

Die organisasie sê hy word die laaste twee weke met klagtes oorval van ouers wat steeds nie SMS-kennisgewings ontvang het met ’n aanbod vir die plasing van hul kinders in skole vir die 2020-skooljaar nie.

Daarvolgens blyk ouers ongelukkig en gelyktydig gespanne te wees oor die proses wat so lank neem en uitgerek word. Dit skep onsekerheid by ouers en leerders. AfriForum aan die ander kant beweer dat beide die aanlynregistrasiestelsel sowel as die plasingsproses talle probleme veroorsaak het. Volgens Carien Bloem (bestuurder vir onderwys by AfriForum) stoei skole al ‘n geruime tyd om hul plasingslyste te laat klop met dié van die Gautengse departement van onderwys (GDO), aangesien talle skole lyste van die departement ontvang het wat totaal van hul lyste verskil.

By spesifieke navraag hieroor het HERAUT verneem dat meeste van die plaaslike laer- en hoërskole in Nigel en Heidelberg min (indien enige) probleme met die plasingslyste ondervind het.

“Ons plasingslys vir 2020 het aanvanklik in klein getalle met die departement verskil, maar dit is dadelik opgeklaar nadat ons die probleem uitgewys het,” het waarnemende hoof van Hoër Volkskool Mnr Neels de Villiers gesê.

“Ons direkte bestuurders by die distrikskantoor het ons goed ondersteun en die proses by ons skool het goed afgeloop. Sommige ouers is egter ontevrede, bloot omdat hul kinders nie by ons geplaas is nie. Hoërskool John Vorster het honderde aansoeke ontvang, maar ons is nie groot genoeg om almal te kan plaas nie. Dit is die enigste rede vir moontlike ontevredenheid onder ouers,” het die hoof van Hoërskool John Vorster, Jan Nienaber teenoor HERAUT gesê.

AfriForum sê hul waarskuwings het gedurende Mei al op dowe ore geval en nou vra Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng en die departement deurentyd om verskoning oor die foute, eerder as om te erken dat die stelsel ’n mislukking is en skole toe te laat om self hul plasings te hanteer soos in die verlede. Die GDO het tydens ’n nood mediakonferensie op 4 November aangekondig dat die plasingsproses verder verleng word tot 30 November.

Ouers wat steeds nie plasingsboodskappe ontvang het nie, behoort blykbaar binne die volgende maand kennis te kry van waar hul kind geplaas is. “AfriForum sal aanhou om skole en beheerliggame by te staan in die stryd om die plasingsprobleme op te los voor die aanvang van die 2020-skooljaar,” het Bloem gesê.

Intussen het die GDO ouers versoek om die volgende kanale te gebruik om hul probleme ten opsigte van die plasingsproses aan te meld:

* ’n appèlvorm moet afgelaai word by gdeadmissions.gov.za, ingevul en teruggestuur word na admissions.hotline@gauteng.gov.za; en

* verder kan ouers die belsentrum skakel by 0800 000 789 of ’n e-pos stuur aan gdeinfo@gauteng.gov.za of hul naaste distrikskantoor besoek.

Related Articles

Back to top button