Plaaslike slangvangers staan bont

NIGEL - “Wees bewus en versigtig, want dit lyk of die slange weens toenemende hitte, krioel hierdie somer.”

So het plaaslike slangvanger Braemer Willard inwoners gewaarsku, nadat hy op 5 November ‘n rinkhals by ‘n huis in Ferryvale gevang en verwyder het.

Sommige slange soos die rinkhals is gevaarliker as ander en inwoners moet weet wat hulle te doen staan as hulle met dié reptiele gekonfronteer word.

“Reptiele hiberneer gedurende winter waartydens hulle hartklop verminder. Hulle ontwaak gewoonlik wanneer die reënseisoen begin, is baie honger en gevolglik uiters aktief,” het Willard gesê en bygevoeg dat hy jare se ervaring met reptiele agter die blad het.

Volgens Willard weet hy hoe om met die gevaarlike spesie te werk en hulle suksesvol te verwyder. Hy bied graag sy dienste aan om slange in Nigel, Alrapark en MacKenzieville te verwyder en kan by 076 614 7771 geskakel word.

Vir bystand om slange in Heidelberg te verwyder, skakel George Booker by 082 465 6754.

Exit mobile version