Local newsNewsBreaking News

Slang in die gras in Spaarwater

Hy wou rinkhals red, maar honde kry hom beet.

Jacques Hugo was vir jare ‘n paramedikus in Bedfordview waar hy noodgedwonge moes leer slange vang. Hoewel hy al in die oog gespoeg en meer onlangs in 2017 aan die hand gepik is, skrik dit hom nie af nie.
Hier op sy kleinhoewe in Spaarwater is hy ook gewoond daaraan om gereeld met slange te werk. “Ek maak hulle nooit dood nie. Ek vang hulle en gaan laat hulle dan in die Suikerbosrand Natuurreservaat vry,” het Hugo vertel.
Hy het op 7 November weer ‘n glibberige besoeker gehad toe sy Jack Russels omstreeks 13:00 vreeslik in die agtertuin tekere gegaan het.

Hugo het gaan ondersoek instel en op ‘n rinkhals van ongeveer 1.2m afgekom. Die slang was nie gelukkig met die indringers nie en het bakkop sy ontevredenheid gewys.

Nadat Jacques Hugo ‘n rinkhals uit sy tuin wou red, het sy honde dit ongelukkig beetgekry. Die beseerde slang het toe in dié afvoerpyp verdwyn.

Hugo kon daarin slaag om hom met sy vangstok te vang en het hom in ‘n emmer geplaas. Ongelukkig het een van die honde die emmer omgekeer en die rinkhals beetgekry. Die beseerde reptiel het weggeseil en in die pad by ‘n afvoerpyp ingeglip.
Hugo het die slang probeer vind, maar kon nie daarin slaag nie. Hy hoop nou maar dat die rinkhals dit oorleef het.

Related Articles

Back to top button