Local newsNews

Voormalige Marievale inwoners veg dapper voort

NIGEL - Twee jaar is verby sedert weermagoffissiere met ‘n groot lawaai toegeslaan en honderde gesinne uit hul huise by die ou militêre basis in Marievale uitgesit het.

Die uitsetting op 30 November 2017 het te midde ‘n Hooggeregshof interdik om dit te verhoed, plaasgevind en rondom 600 inwoners het hulself skielik dakloos en sonder heenkome bevind. Huise se deure is na bewering deur gewapende soldate oopgeskop en dreigemente en intimidasie was aan die orde van die dag, terwyl inwoners gedwing is om inderhaas hul besittings te pak en die huise te ontruim.

Onder dié inwoners was Hennie (64) en Wanda (61) Koekemoer wat die militêre basis vir 40 jaar hul tuiste genoem het. Hennie is boonop ‘n militêre veteraan, maar ondanks sy jarelange bydrae tot die weermagdiens is hy saam met die ander inwoners byna geweldadig uitgesit. Sy seun Willie wat ‘n paar huise van hom af gewoon het en die voortou geneem het om geregtigheid vir Marievale inwoners te verkry, het in Julie 2018 sy eie lewe geneem. Dit nadat hy in ‘n kliniek vir emosionele uitbranding opgeneem was en teenoor sy familie erken het dat hy “verskriklik moeg is”.

HERAUT het Hennie en Wanda op 23 Oktober by hul huurhuis in Nigel besoek en oor hul lewens die afgelope twee jaar gesels.

“Die uitsetting en gebeure daarna het diep emosionele letsels gelaat en ons lewens het heeltemal verander. Ons verkoop deesdae tweedehandse items vanuit die motorhuis om die pot aan die kook te hou en ons maandelikse huurgeld te betaal,” het Hennie gesê.

Hoewel ongeveer 10 gesinne intussen ingevolge ‘n hofbevel deur Regter N Davis weer hul intrek by die militêre basis geneem het, is die omstandighede volgens die Koekemoers nie gunstig nie. Hulle sê ook dat hul slegs sal terugtrek na die basis indien die huis waar hulle vir 40 jaar gewoon het, weer beskikbaar gestel word. Wooneenhede wat deur die weermag beskikbaar gestel is, bestaan blykbaar uit ‘n woonkwartier met gesamentlike fasiliteite soos die kombuis en badkamer met bykans geen privaatheid nie.

“Die feit dat hierdie gesinne toegelaat is om terug te trek, beteken niks want die intimidasie deur soldate duur voort. Boonop is die kragtoevoer na die woonkwartiere onlangs afgesny en die omstandighede is haglik,” het Wanda gesê.

Haar oë skiet vol trane wanneer sy die afgelope twee jaar se gebeure herroep – veral wanneer sy oor die selfdood van haar seun Willie en die van sý seun Whalen kort daarna, gesels.

“Ons sal nooit hoop verloor nie en een ding wat ek weet, is dat geregtigheid binnekort sal geskied,” het sy moedig gesê terwyl sy verduidelik het dat Louise du Plessis (‘n prokureur van Lawyers for Human Rights) steeds hul saak in die Hooggeregshof beveg.

Volgens Wanda is daar tans onderhandelinge op die tafel met betrekking tot vergoedingspakkette vir ongeveer 130 voormalige inwoners.

“Die saak neem gedurende Februarie ‘n aanvang in die Hooggeregshof. Indien die prokureur slaag, sal dit ‘n geskiedkundige dag wees waar die weermag miljoene rande in skadevergoeding sal moet opdok,” aldus Wanda.

Ondanks verskeie pogings, het Louise du Plessis nog nie op HERAUT se navrae geantwoord nie en besonderhede rondom onderhandelinge met betrekking tot vergoedingspakkette is daarom nie duidelik nie.

Related Articles

Back to top button