CrimeNews

Bejaarde in tuin oorval

George Enslin (75) van Nigel was besig was om onkruid uit die tuin te haal, toe ‘n verdagte wat oor sy woning se muur gespring het, ‘n wapen teen sy kop gedruk het.

“Die volgende oomblik het ek die loop van ‘n vuurwapen teen my kop gevoel en iemand het my hard aan die arm opgepluk,” het hy oor sy nagmerrie ervaring van 15 Oktober by sy huis in Voortrekkerstraat gepraat.

Terwyl die verdagte hom in die rigting van die swembadhek forseer het, kon Enslin die loop van die wapen in sy rug voel en hy het dadelik besef wat besig is om te gebeur. Hy het aan die verdagte verduidelik dat die hek gesluit is, waarop dié in Engels vir hom gesê het om die huis in te gaan.

Wat die Enslin-egpaar op daardie stadium nie geweet het nie, is dat hul buurvrou aan die oorkant van die straat die verdagte vroeër oor die tuinmuur sien spring het en reeds die polisie ontbied het.

“Ek weet nie waar hulle so vinnig vandaan gekom het nie, maar binne minute was ons huis omring met tientalle polisiemanne en lede van Nigel GPF. Daar was selfs munisipale werkers en twee kapelane wat hulp aangebied het, maar van die verdagte was daar geen spoor nie,” het Enslin gesê.

Die Enslins is dankbaar om te leef en het veral hul buurvrou vir haar oplettendheid en flink reaksie bedank, maar ook ‘n spesiale woord van dank teenoor Nigel SAPD en die GPF-lede uitgespreek.

Wat hulle steeds van die voorval bybly, is die afsku in die verdagte se oë en die magtelose gevoel toe hy die vuurwapen op hulle gerig het. Hy het blykbaar donker kleure en ‘n mussie gedra.

Hulle het ander inwoners gemaan om versigtig te wees wanneer hul buite in die tuin werk en om veral op verdagte persone of voertuie in die straat te let.

‘n Saak van poging tot roof word ondersoek.

 

 

Related Articles

Back to top button