Pensioenarisse trek swaar

Help Markus om vis te vang vir ekstra inkomste.

Dis nie maklik om vandag ‘n pensioenaris te wees en op ‘n staatspensioen te oorleef nie. Markus Coetser (76) weet maar al te goed hoe dit ‘n daaglikse stryd geword het om te oorleef.

Markus woon in die Kareehof munisipale woonstelle in Rensburg en stap daagliks die sowat 5km dorp toe en terug om by Heidelberg Hospitaal uit te kom (sy gesondheid gaan by die dag agteruit) of om die munisipale kantore te besoek om reëlings te probeer tref dat sy elektrisiteit nie afgesit word nie.

Hy het ná sy aftrede as karwag gewerk om sy pensioen aan te vul, maar sy gesondheid laat dit nie meer toe nie. Hy is ‘n kranige hengelaar en het eens vis vir ‘n inkomste verkoop, maar sedert sy voertuig gebreek het en hy dit nie meer (ná talle probeerslae) kon herstel nie, moes hy dit verkoop.

Die lewe was nie altyd so swaar nie. Markus het ná skool by die SA Vloot aangesluit waar hy sowat R7 per maand verdien het. Later jare is hy permanent teen R30 per maand aangestel. In Simonstad was hy ‘n parade instrukteur vir drie en ‘n half jaar waarna hy opleiding by die gevangenisdiens in Kroonstad ontvang het. Hy is later as bewaarder na Pretoria Sentraal Gevangenis (vandag die Kgosi Mampuru) verplaas.

 

Ministriële lyfwag

 

Hy het homself vinnig in die staatsdiens opgewerk en het die instandhouding van alle staatsgeboue in Pretoria behartig. Markus het opleiding as lyfwag ontvang en het saam met ministers tussen Pretoria en Kaapstad gereis.

Hy was ‘n kranige sportman in sy jonger dae en het rugby en sokker gespeel asook geboks en gestoei. Hy het selfs vir Noord Vrystaat se rugbyspan uitgedraf en teen groot name soos Frik du Preez gespeel. Sy bedrywige sportdae het egter later hul tol geëis en in 1993 is hy medies ongeskik verklaar.

Hy ontvang ‘n staatspensioen van R1 800 plus sy werkspensioen van R2 374 per maand. Hiervan moet hy R3 000 vir die munisipale tweeslaapkamer woonstel (water en krag ingesluit) betaal wat nie veel vir kos en ander noodsaaklikhede laat nie.

Markus woon saam met sy derde vrou Liezel en hul 21-jarige dogter Surita en 15-maande oue kleinseun Rihandru in die woonstel. Liezel is ‘n tuisversorger van bejaarde- en siek mense en Surita kon nie haar studies by Sedibeng Kollege weens finansiële redes voltooi nie en kry ook nie werk nie omdat sy geen ondervinding het nie.

 

Oupa Coetser en die Kruger ‘miljoene’

 

Soms vergeet Markus van sy hedendaagse stryd om oorlewing en dan vertel hy graag van sy oupa Jan Coetser wat ‘n generaal in die Anglo-Boereoorlog en finansiële raadgewer van Paul Kruger was. Toe Kruger uit Suid-Afrika geban is, het sy binnekring glo met die Kruger goudstawe (Markus sê dit was nie muntstukke soos almal dink as daar van die Kruger miljoene gepraat word nie, maar dit was soliede goudstawe gewees) voor die Engelse uitgevlug.

Die goud moes na Lourenço Marques   (die hedendaagse Maputo) vervoer word vanwaar Paul Kruger per skip sou vertrek. Die Engelse was egter kort op die die span se hakke en hulle moes van die beplande roete afwyk.

Die goud is toe inderhaas vermoedelik iewers in die Laeveld begrawe. Sy oupa is met dié geheim graf toe en niemand weet meer waar dit begrawe is nie.

Nou hoop hy net dat daar weer goedgunstige mense sal opdaag wat hom saam met hulle op ‘n hengeluitstappie na die Vaaldam sal neem.

Exit mobile version