Local newsNews

Bejaardes jubel ná gratis operasies

Lewens danksy katarak verwydering verryk.

Nie minder nie as 10 bejaardes, waarvan vyf van Heidelberg, het gratis katarakverwydering operasies van die Benoni Oos Instituut op 9 Julie ontvang.

 
Lydia Calitz (80) van Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes was een van die bevoorregte inwoners wat die operasie ondergaan het. Sy sê sy is oneindig dankbaar en kan nie genoeg dankie sê nie.

 

“Ons het baie om voor dankbaar te wees. Dié soort operasie is duur en ek sou dit nie andersins kon bekostig nie,” het Lydia aan HERAUT gesê.

 
Die veldtog ‘Unclouding Cataracts’ is deur Benoni Oog Instituut se spesialiste in samewerking met ander donateurs van stapel gestuur om gratis katarakverwyderings vir meer as 80 pasiënte in Gauteng te bied.

 

“Goeie sig is seker een van die wonderlikste geskenke wat enigiemand kan ontvang en dit is ‘n geskenk wat net aanhou gee. Die instituut sowel as die mense wat dit moontlik maak voel nederig dankbaar dat ons jaar na jaar en operasie na operasie, ‘n daadwerklike verskil in mense se lewens kan maak,” het Maryke Lotz (bemarking- en kommunikasiebestuurder) van Benoni Oog Instituut gesê.

 
Lydia het verlede jaar ontdek dat sy ‘n katarak aan haar regteroog het. Sy is lief vir brei, hekel, lees en blokkiesraaisels en sê sy kan ná die operasie selfs sonder haar bril klaarkom.

 
Christine Oosthuizen (81), Willem Pretorius (77), Adolf Seidel (78) en Maria Carstens (69) is die ander inwoners van die dienssentrum wat met beter sig spog. Christine is ‘n oud-verpleegster wat ‘n katarak aan haar linkeroog gekry het. Sy het ook probleme met haar ander oog en het gesukkel om te sien. Sy kon nie meer so lekker lees en brei nie.

 

“Breiwerk is deel van my lewe. Ek het altyd tydens nagdiens gesit en brei. Nou kan ek weer mooi sien en voortgaan met my breiwerk,” het sy gesê.

 
Willem, wat sy hele lewe in Heidelberg woon en aan Laerskool AG Visser en Hoër Volkskool verbonde was, sê hy het sedert November verlede jaar draadjies oor sy regteroog begin sien. “Ná die operasie sien dié oog nou selfs beter as die ander ‘gesonde’ oog en nou kan ek weer lekker lees en los werkies in en om die huis doen,” het hy gesê.

 
Adolf se regteroog het dof begin word en die katarak is toe ontdek. Hy is baie lief vir lees en sê dis wonderlik, want hy kan nou sonder sy bril lees.

 
Maria het die afgelope ses maande moeilik begin sien en sy het gesukkel om met haar breiwerk voort te gaan. Sy is ook baie lief vir lees en is ‘oneindig dankbaar vir die ooginstituut met sy wonderlike dokters en vriendelike verpleegsters wat die operasie moontlik gemaak het.’

 
Dr Charl Weitz, bekende katarakspesialis wat die operasies uitgevoer het, sê die instituut het tot op datum meer as 3 000 operasies as deel van die World Eyesight Project uitgevoer.

 
Lotz het Dr Weitz, die Benoni Oog Instituut en personeel, Dr AJ Pienaar (narkotiseur) en I-Medical Ophthalmic International (verskaffer) en Carl Zeiss (verskaffer) vir hul bydrae tot die projek bedank.

 

“King Pie was ook so gaaf om elke pasiënt asook personeellede van die instituut op die dag van die operasie met ‘n geskenkpak te bederf,” het sy afgesluit.

 

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button