Pizza-man sterf tragies in tref-en-trap

Heidelberg-inwoner gearresteer

HEIDELBERG – ‘n Valhelm wat in die pad langs ‘n verkeerslig gelê het, was die stil getuie van die tragedie wat hom afgespeel het toe ‘n 22-jarige afleweringsman van Debonairs Pizza op 19 Julie omstreeks 20:30 in ‘n tref-en-trap ongeluk by die Jacobsstraat afrit gesterf het.

 
Sy opgefrommelde motorfiets het meters verder in die pad gelê en stukke pizzaboks het die oorledene se beroep verklap. Die bestuurder van die voertuig wat hom getref het, het weggejaag.
Autotech insleepdiens se manne was vinnig op die toneel en het stukke van ‘n blou voertuig op die toneel opgemerk. By nadere ondersoek het hulle gesien dat die voertuig ‘n oliestreep gelos het en het die spoor tot in Bergsig gevolg waar Heidelberg GPF patrolleerders in die soektog gehelp het.

 
Die patrolleerders het nie opgegee tot die voertuig opgespoor is nie. Dit is aan die beskadigde bakwerk uitgeken. Heidelberg polisie het hierna die toneel oorgeneem.

 
Volgens George Booker (Snr) wat ook in die soektog gehelp het, blyk dit dat die man by sy huis ingejaag het, sy voertuig daar gelos en toe verder gevlug het.

 
Medelye vir die sagoffer het van oral op Facebook ingestroom met boodskappe soos Bophelo Mkulubete wat gesê het:

 

“Hy was nie net ‘n kollega nie, hy was familie vir ons almal by Debonairs, Steers en Fishaways. Mag sy kosbare siel in vrede rus.”

 

Colett Janse van Rensburg skryf:

 

“Dit is hartseer nuus. Jy was ‘n besonderse jong man wat altyd ‘n glimlag op jou gesig gehad het. Ons sal jou mis.”

 

Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD het bevestig dat ‘n 31-jarige beskuldigde vroegoggend op 22 Julie gearresteer is. Hy sou later dieselfde dag in Heidelberg Landdroshof op aanklagte van (1) manslag, (2) dat hy die ongelukstoneel verlaat het, (3) dat hy nie hulp aan ‘n beseerde persoon gebied het nie en (4) dat hy nie die ongeluk binne 24uur by die naaste polisiestasie aangemeld het nie.

 

Volg ons op:

 

Exit mobile version