Local newsNews

Nigel Dam deur onwettige visstropers leeggenet

Kilometers net word gereeld hier verwyder

NIGEL – Nigel Dam is by uitstek ‘n hengelbron vir menige visserman, maar ‘n skynbare toename in visstropery het vangste die afgelope jaar volgens berigte negatief beïnvloed.
‘n Kennisgewing agter die geslote hek by die ingang herinner besoekers dat dié munisipale hengelterrein gedurende die tydperk van 31 Maart tot 31 Augustus gesluit sal wees. Die rede is eenvoudig: dit bevorder die biologiese beheer van verskillende visspesies wat in die water aangetref word, maar ondanks die geslote hek en kennisgewing, is die terrein se beton omheining van sy laaste paneel gestroop en bied dit vrye toegang aan enige persoon wat dag of nag wil lyne natmaak.

 

Shaun Bamford (lid van Nigel GPF), DA raadslid Wollaston Labuschagne en Ruan Schoonbee (lid van Nigel GPF) het op 17 Julie by Nigel Dam ontmoet waar die kwessie van onwettige visstropery bespreek is. Ondanks ‘n geslote hek by die dam se ingang, is die terrein se beton omheining van sy laaste paneel gestroop en bied dit vrylik toegang aan enige persoon wat dag of nag wil lyne natmaak.

 

Volgens Shaun Bamford, lid van Nigel GPF en self ‘n kranige hengelaar, word Nigel Dam leeggenet. Hy en nog ‘n paar GPF-lede het die afgelope jaar vangnette van kilometers lank uit die dam verwyder en het hul kommer oor beskerming van plaaslike visbronne uitgespreek.

 

“Ek het die eerste keer van die vangnette gehoor toe ‘n besoeker aan die dam my daarvan vertel het. Ek het dadelik opgetree en die eerste net wat ek uitgehaal het, was bykans 3km lank. Honderde vis waaronder karp, baber, baars en graskarp het daarin vasgesit. In Mei het ons weer toegeslaan en die keer ‘n net van ongeveer 4km lank en propvol vis, uitgehaal. Honderde vis word so op een slag gestroop,” het Bamford verduidelik.

Hy het bygevoeg dat hulle onlangs ‘n man van Oosterse afkoms langs die dam aangetref het waar hy besig was om oewervis met stokke te vang. By navraag het die man glo ontken dat hy van vangnette gebruik maak, maar kort daarna opgepak en homself vinnig uit die voete gemaak.
Intussen het Ruan Schoonbee hom by Bamford aangesluit en besoek die twee gereeld plaaslike damme op vrywillige basis om vangnette te verwyder. Schoonbee het vertel dat hy ‘n paar weke gelede tydens ‘n roetine patrollie by Mirage Pan ook op ‘n groep visstropers afgekom het.

 

“Die manne het probeer om ‘n 20 liter plastiekhouer te versteek, maar ek het vinnig opgetree en aangedring om die inhoud daarvan te sien. Binne die houer was ‘n reusenet en onder dit honderde klein vissies,” het hy gesê.

 

Volgens Bamford word die nette saans (veral wanneer dit volmaan is) deur visstropers uitgegooi en trotseer hy en Schoonbee die koue water met ‘n klein bootjie in die donker.

 

Hoewel Nigel Dam vir publieke gebruik gesluit is, laat plaaslike hengelaars hulle nie stuit nie. Tydens ‘n roetine patrollie het Shaun Bamford en Ruan Schoonbee van Nigel GPF op dié twee hengelaars afgekom waar hulle besig was om onwettig oewervis te vang.

“As die bootjie sou omslaan, is ons in groot moeilikheid. Die water se temperatuur daal snags tot onder vriespunt en ons loop die gevaar van verkluiming (hipotermie),” het Bamford gesê en sy hoop uitgespreek dat plaaslike owerhede soos die polisie en Nigel Metropolisie hulle gewig by misdaadbekamping van dié aard sal gooi.
Op hoë vlakke landwyd word die stryd teen renosterstropers geveg, maar op plaaslike bodem moet lede van die GPF die onwettige visstropery op eie houtjie probeer stuit.
Tydens ‘n onlangse ontmoeting met Bamford en Schoonbee by Nigel Dam, het DA raadslid Wollaston Labuschagne die onderneming gegee dat hy die aangeleentheid by die betrokke departement van Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit asook by Nigel Metropolisie sal opper.

 

 

Labuschagne het verder aangedui dat die kwessie met betrekking tot omheining van bewaringsgebiede (wat plaaslike vleilande en ondermeer Nigel Dam insluit) by ‘n vorige raadsvergadering bespreek is. Dit volg nadat Labuschagne deur Stan Madden – bewaringsaktivis en stigterslid van Marievale Voëlreservaat – met die versoek genader is.
“Hoewel die begroting nie vir die onmiddellike omheining van bewaringsgebiede voorsiening maak nie, sal dit beslis binne die die volgende vyf jaar plaasvind,” het hy gesê.
Dit is duidelik dat daar nie oornag oplossings vir die probleme by Nigel Dam gaan wees nie, maar intussen word plaaslike inwoners wat hulp in die vorm van duikpakke en ‘n groter boot kan aanbied, gevra om Bamford by 082 880 0221 te skakel.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button