Venters wil nuwe lewe in Kriel begin

Harte loop oor van dankbaarheid vir ondersteuning.

“Terwyl die vlamme my rug en skouers gebrand het en ek nie die deur kon oopkry nie, het ek myself afgevra of my lewe met God reg is indien ek dit nie sou maak nie. My antwoord was, nee.”

 

So het Cindy Venter op haar Facebook blad op 8 Julie haar stilswye oor die nagmerrie nag van  16 Junie verbreek nadat die gesin se huis in Rensburg gebrand en bure die egpaar van ‘n gewisse vlammedood moes red.

 
Adriaan en Cindy het Heidelberg op 9 Julie besoek en die egpaar het hul harte teenoor HERAUT oopgemaak. “Ons gaan ‘n nuwe lewe in Kriel begin. Dit was hartverskeurend om ons afgebrande huis en swartverbrande besittings wat in ‘n tydperk van 12 jaar bymekaargemaak is, te sien. Ons dink dit sal beter wees om ‘n nuwe begin in ‘n nuwe omgewing te maak,” het Cindy gesê.

 
“Die Here is groot. Hy het ons deur alles gedra en beskerm. Ons het al ons besittings verloor, maar ons lewe. Die belangrikste wat ons uit hierdie ondervinding geleer het is dat jou besittigs niks beteken nie. Sê elke dag vir jou geliefdes dat jy lief is vir hulle, want jy weet nie of jy hulle weer gaan sien nie. In een oomblik kan jou hele lewe verander,” het Adriaan gesê.
Hulle kan nie veel van die aand onthou nie. Hulle het wakker geword en net vlamme gesien. Adriaan het gehoor hoe Cindy by die oop skuifdeur om hulp skree en roep ‘Here my God, help ons’. Daarna het hy inmekaargesak.

 
Adriaan was bewusteloos en het op pad hospitaal toe ophou asemhaal. Hulle het vir Cindy gesê dat, sou hy leef, hy vir maande in die hospitaal sou bly. Sy het geskrik toe sy ná ‘n paar dae in die intensiewesorg eenheid kon opstaan en na Adriaan se bed geloop het. Hy was so geswel dat sy hom amper nie herken het nie. Sy het met hom begin gesels en ‘n suster het opgemerk dat sy hartklop versnel elke keer as Cindy met hom praat en haar aangemoedig om meer te praat. Adriaan het dokters verstom en is ná slegs twee weke ontslaan.

 
Hy sê hy kan niks onthou nadat hy sy bewussyn in die huis verloor het nie. Die eerste wat hy in die hospitaal kon onthou, was Cindy se stem. Hy kon selfs onthou wat sy vir hom gesê het.
Adriaan raak emosioneel terwyl hy met HERAUT praat. “Die gemeenskap se ondersteuning was ongelooflik. Ná HERAUT se berigte het mense hul harte oopgemaak en skenkings het ingestroom. Ons weet ook dat baie mense vir ons gebid het en ek glo dit is hoekom ek vinniger as verwag, herstel het,” het hy gesê.

 
Die egpaar se huisversekering het ‘n paar maande gelede verval en hulle moet letterlik van voor af begin. ‘n Kontantskenking van ‘n anonieme persoon het dit vir hulle moontlik gemaak om ‘n huis in Kriel te huur.

 
Cindy en Adriaan sê dit is nie maklik om vir skenkings te vra en van ander mense afhanklik te wees nie, maar hulle het soveel meelewing en liefde ontvang dat hulle tot die besef gekom het dat daar nie net slegte dinge daar buite is nie. “Heidelberg is ‘n gemeenskap wat werklik omgee. Nie net het ‘n groep manne daardie aand hul eie lewens in gevaar gestel om ons te red nie, maar nou staan mense ons verder met skenkings by,” het Cindy in trane gesê.

 

 

“Ons is bang vir alles ná die verskriklike ondervinding. Ons het seker gemaak dat ons nuwe huis ontsnappingsroetes het. Jy vra jouself af of jy maklik uit die huis sal kan kom? Wat as dit weer gebeur en ek word weer vasgekeer? Dit is vrae wat heeltyd deur my kop gaan,” het Adriaan gesê.

 

Adriaan en Cindy is dit eens dat die manne wat die nag hul deur oopgebreek het, hul helde is. “Sonder daardie manne wat nie aan hul eie lewens gedink het nie, sou ons nie vandag hier gesit het nie. Om dankie te sê kan nooit verwoord wat ons voel nie,”

 
Adriaan verduur nog baie pyn, maar probeer ter wille van sy gesin dapper bly.

 

Adriaan Venter verkeer nog in baie pyn, maar sê aardse goed maak nie meer saak nie, solank jy jou hartsmense om jou kan hê. Hy was baie emosioneel terwyl hy en sy vrou Cindy hul harte oor die skrikwekkende nag toe hul huis gebrand het, oopgemaak het.

“Ek en Cindy bid dat elke persoon wat ons bygestaan het met gebede, skenkings, boodskappe en die manne wat hul eie lewens in gevaar gestel het, viervoudig deur die Here geseën sal word. Op hierdie manier wil ons vir julle almal dankie sê,” het Adriaan afgesluit.

 
Die egpaar benodig nog meubels, veral ‘n sitkamerstel en dubbelbed en beddegoed. Klein Wian (5) benodig nog klere (grootte ouderdom 13). Kayla (9) het baie skenkings van klere gekry en ‘n man het selfs sy kosbare klein Bybel wat hy as kind ontvang het, vir haar gegee. Hulle moet nog skoolklere en benodigdhede vir die kinders se nuwe skool in Kriel koop. Die gesin het ‘n mikrogolf oond en yskas ontvang, maar het geen ander elektroniese kombuisware nie.

 
Die kinders se speelgoed is ook alles in die brand vernietig. Kontantskenkings kan in Cindy se bankrekening betaal word by AC Venter, Capitec Bank Heidelberg, spaarrekening nommer 1650238809 of skakel Cindy by 064 892 2073.

 

Volg ons op:
Exit mobile version