Local newsNews

So verhoed jy ‘n brand in jou huis

Heidelberg Brandweerhoof gee lewensbelangrike inligting

Brandseisoen is tans op sy hoogste en Mnr Clement Masinge (brandweerhoof) van Lesedi Brand- en Nooddienste vra dat inwoners die brandweer se telefoonnommer byderhand sal hou.

 

Min inwoners besef hoe bevoorreg Heidelberg is om ‘n bekwame persoon soos Masinge as brandweerhoof te hê. Behalwe sy jarelange kennis as brandweerman is hy ook ‘n kenner op die gebied van rampsbestuur en is regoor die land in aanvraag.

 
Hy het gemaan dat die brandgevaar tans soveel groter is omdat inwoners nou meer verwarmers, koolstowe en kaggels as gevolg van die snerpende koue gebruik.

 

“Die nommer van Heidelberg se brandweer – 016 341 4327 – is vir jare onveranderd en is ook gekoppel aan die munisipale inbelsentrum wat 24 uur per dag beman word. Die sentrum (wat noodgevalle met water, elektrisiteit en riool hanteer) kan ook by Heidelberg Stadsaal in HF Verwoerdstraat besoek word, of skakel hulle by 0800 118000.

 

Dit is hoe jou gasverwarmer se reguleerder en rubberpyp lyk wat gereeld versien moet word.

 

Masinge het Marlene Emslie, wie se huis onlangs aan die brand geslaan het, op 2 Julie besoek. Marlene se gasverwarmer wat sy in haar hoofslaapkamer aangeskakel het, het die brand veroorsaak.
Hy het gemaan dat reguleerders van gasverwarmers ten minste een keer per jaar nagesien moet word. Die rubberseël aan die punt van die reguleerder moet ook gereeld nagegaan word om te verseker dat dit nie verslyt is en vervang moet word nie. Die rubberpyp moet gereeld vir krake ondersoek word.

 

 

Die reguleerder en pyp kan van die verwarmer losgemaak word en saamgeneem word wanneer jy jou gassilinder laat hervul. Vra dan die onderneming wat die hervulling doen (dit moet ‘n geregistreerde gasinstalleerder wees), om die pyp, reguleerder en seël na te gaan.
Hy het verduidelik dat gas deur krake in die pyp en seël ontsnap en dit veroorsaak lugholtes wat naby die grond (omdat gas swaarder as lug is) in jou huis voorkom.

 

Jou verwarmer of gasstoof kan in een vertrek wees, maar die gasholtes gaan regdeur die huis en wanneer iemand in ‘n ander vertrek ‘n vuurhoutjie of aansteker aansteek, sal die gas vlamvat. Die reuk van gas is ‘n aanduiding dat gas iewers ontsnap, het Masinge gewaarsku.
Hy het die volgende wenke gegee: Dit is belangrik dat mense nooit enige verwarmers sonder toesig sal laat nie. Plaas dit weg van enige materiaal soos gordyne, beddegoed, meubels en matte.
‘n Vuur het drie faktore nodig om te brand – hitte, suurstof en materiaal wat kan brand. Indien jy jouself in ‘n brandsituasie bevind, maak dadelik alle openinge soos vensters en deure toe sodat die vlamme nie suurstof kry nie.

 

Mnr Clement Masinge (brandweerhoof) van Heidelberg wys die gasverwarmer van Marlene Emslie wat die brand in haar slaapkamer veroorsaak het.

 

Indien die vuur as gevolg van ‘n gasverwarmer ontstaan het soos in Marlene se geval en dit is nog klein genoeg sodat jy nader kan gaan, moet die gas dadelik toegedraai word. In Marlene se geval was die vlamme egter reeds tot teen die plafon en volgens Masinge het sy reg opgetree deur die kamerdeur toe te maak en na buite te vlug.
Dit is belangrik om ‘n brandblusser in jou huis en kantoor aan te hou. Maak seker jou brandblusser is gediens en op ‘n plek waar dit vinnig gevind kan word.
Maak seker jy ken Lesedi Brand- en Nooddienste (Heidelberg se brandweer) se nommer uit jou kop of stoor dit op jou foon waar jy dit vinnig in ‘n noodgeval in die hande kan kry. Die nommer is 016 341 4327.

 

Volg ons op:

 

Related Articles

Back to top button