Local newsNews

Hier is hulp vir persone in ‘n krisis-swangerskap

Met die wet op aborsies wat in 1997 in Suid-Afrika gewettig is, het ‘n doodsgees die wettige reg verkry om oor die land te heers.

Dit is hoe Born2Care se stigter Henda Bonsma (met ondervinding van 25 jaar as arbeidsterapeut) die groot bydraende faktor van die gewelddadige toestande in Suid-Afrika beskryf. Sy vertel dat die Heilige Gees haar oë geopen het en die Vader se hart vir lewe en ongebore babas aan haar gewys het. Sy het besef dat God elkeen by die naam ken nog voor jy in jou moeder se skoot gevorm is.

 
Henda het 21 jaar gelede die Born2Care sentrum vir vroue en meisies wat in krisis swangerskappe verkeer, begin. Baie van dié vroue sien nie die pad vorentoe nie en weet nie hoe om met hul lewens en dié van hul ongebore babas aan te gaan nie.

 
Sy het oor die saak gebid en saam met ‘n paar dames begin om pre-aborsie berading by Heidelberg Hospitaal te begin. Henda en haar span het met skok gehoor dat tot 80 aborsies per maand by dié hospitaal uitgevoer word.

 

Die groep het spoedig pre-aborsie berading begin gee en aan die vroue ondersteuning gedurende hul swangerskap en alternatiewe gebied wat baie van hulle laat besef het dat aborsie nie die enigste uitweg is nie.

 

 

“Terwyl die vroue tussen lewe of dood besluit het, het ons vir hulle gebid dat hulle die beste besluit sal neem,” het Henda vertel. 

 

 

Deur die jare het vrywillige werkers by Born2Care aangesluit en weeklikse voorgeboortelike klasse is aangebied. Dié klasse word steeds elke Donderdag om 10:00 by Heidelberg Methodiste Kerksaal in Strydomstraat 57 aangebied.

 
Opgeleide dames help die moeders-in-wording om hulself sowel as hul babas lief te hê en mooi te versorg. Vroue wat dié klasse bywoon, verdien punte wat hulle by Born2Care se babawinkel in Jacobsstraat 40 vir benodigdhede kan inruil.

 
“Statistieke toon dat vroue tussen die ouderdom van 25 en 34 meer geneig is om aborsies as uitweg te kies omdat hulle finansieël nie vir die baba kan voorsien nie. Ons probeer om met die babawinkel en ons ondersteuningstelsel om in die eerste paar maande van die baba se lewe te voorsien. Dit is dan makliker vir die moeder om die keuse vir lewe in stede van dood te maak,” het Henda gesê.

 

 

Sy het spoedig gevoel dat die Here dit op haar hart lê dat Hy met tye die baarmoeder van een moeder gebruik om ‘n kindjie in te laat groei wat in ‘n ander moederhart sal liefde vind.

 

“Aanneming is ‘n goeie opsie en dikwels is dit God se wysheid wat dit so beslis dat ‘n baba aangeneem word. Die mamma wat die ware oorsprong van lewe van haar ongebore baba besef, sal gewillig wees om die baba aan ‘n ander vrou vir 18 jaar te gee,” het sy gesê.

 
Volgens Henda is daar wonderlike stories waar Born2care ondersteuning bied met aanneming. In een so ‘n geval het die aangenome kind op 18-jarige ouderdom die geleentheid gekry om haar biologiese ma te ontmoet en sy het later die voorreg gehad om albei haar moeders op haar troue te hê. (Born2Care stap vir jare lank die pad saam met dié moeders en kinders en hegte vriendskappe is al so gesmee).

 
Henda sê die trauma wat vroue wat aborsies ondergaan het agterna beleef, is verskriklik en PAS (post-abortion syndrome) is ‘n stresverwante siekte wat later in hul lewe kan manifesteer.

 

Die vrou probeer dikwels vergeet en ignoreer die pyn. Herinneringe kom egter altyd terug en dit veroorsaak simptome soos skuldgevoelens, angs, sielkundige verlamming, depressie, selfmoord gedagtes, eetsteurnisse, alkohol en/of dwelm misbruik. Hulle raak betrokke in verhoudings waar hulle misbruik en/of mishandel word.

 

 

Hulle dink ook gedurig aan herdenkingdatums en bande en verhoudigs met hul ander kinders word negatief geraak.

 
“Born2Care is bevoorreg om post-aborsie berading te kan bied en Jesus Christus se kruisdood word ‘n realiteit vir hierdie vroue deur bekering en algehele vergifnis,” het Henda voortgegaan.
Met Born2Care se 10de verjaardag het bekende rooskweker Ludwig Taschner een van sy rose na Born2Care vernoem.

 

 

Hierdie roosboom met sy babasagte kleur (en ja selfs die geur van ‘n baba) word aan vroue gegee om te plant as deel van die helingsproses nadat hulle deur ‘n aborsie of miskraam gegaan het.
‘n Belangrike aspek wat deur die jare met hul werk opgetel is, is die groot rol wat afwesige vaders in die lewe van veral vroue in krisis swangerskappe speel.

 

 

“Die samelewing het ons vaders so besig gehou met sosiale verantwoordelikhede dat die harte van vaders en kinders van mekaar verwyderd geraak het. Lukas 1:17 sê ‘Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ‘n volk gereed te maak.’

 

 
“Vroue van ons land moet hulle daartoe verbind om voortdurend vir die verhoudings tussen hul kinders en dié se vaders te bid. Nie alleen vervul vaders die identiteit en bestemde toekoms van hul kinders nie, maar die hart van die dogter sal teen gebrokenheid beskerm word,” het Henda afgesluit.

 

 

Henda sal voortaan op ‘n gereelde grondslag ‘n kolom oor hierdie onderwerp in HERAUT skryf. Vir meer besonderhede oor Born2Care, of om as vrywilliger aan te sluit, skakel Henda by 082 725 7777.

 

Follow us on:

Related Articles

Back to top button