Local newsNews

Haweloses ontvang hulpmiddels teen winterkoue

Lesedi Community Centre (LCC) kyk steeds uit vir Heidelberg se hawelose mense.

HEIDELBERG – Lesedi Community Centre (LCC) kyk steeds uit vir Heidelberg se hawelose mense wat snags in die ysige koue sonder ‘n dak oor hul kop moet slaap.

 

Hoewel LCC ‘n voedingskema bedryf waar die mense daagliks sop en brood ontvang, probeer hulle onder aanvoering van Jaco Kritzinger (bestuurder) en Lezanne Scholly Hattingh om die mense ná 19:00 snags te besoek en seker te maak dat hulle ten minste warm slaap.

 

Dié hawelose mense kon nie hul blydskap beteuel toe LCC se bussie by hul slaapplek in ‘n systraat van Shalimar Ridge stop en hulle met komberse, warm klere en kos verras het. In die agtergrond is Jaco Kritzinger (bestuurder) van LCC wat die projek bestuur.

 

Wicus Hattingh, Cornelius en Lana Grundling, hul kinders Liané en Estiaan asook Jaco se dogter Anika is die span vir wie hierdie straatprojek na aan die hart lê. Toe hulle hoor dat ‘n koue front op pad na die Kaap is, het Cornelius sakelui genader om te help met skenkings van wol musse, handskoene en kouse.

 

Dié kosbare pakkies is saam met sop, brood en lemoene op 21 Junie aan die nagbewoners van Heidelberg se strate uitgedeel.
Die warm geskenke is met ope arms verwelkom en in baie gevalle is die mense kaalvoet aangetref. LCC het ook ‘n hele aantal skenkings van komberse uit die gemeenskap ontvang en dit is ook uitgedeel.

 

Warm klere, komberse, sop, brood en lemoene is aan hawelose mense in Heidelberg se middedorp uitgedeel. Lezanne Scholly Hattingh deel lemoene uit by ‘n groepie mense se slaapplek in Schoemanstraat.

 

Dit beteken baie vir die kinders om aan dié projek deel te hê en so te help om ‘n verskil in minderbevoorregte mense se lewens te maak. Die kinders was veral opgewonde oor gebedskringe wat gevorm is, waartydens Jaco vir die haweloses in gebed voorgegaan het.

 

Hierdie hawelose man was besonder bly oor die kouse wat hy van die groep weldoeners ontvang het.

 

LCC het ook die afgelope week komberse en warm klere aan die kinders van die Galaxy Children’s Village kinderhuis en bejaardes van Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes uitgedeel (sien berig elders).

 

Indien jy deel van die inisiatief wil word of met skenkings van voedsel, klere en komberse wil help, skakel Jaco by 072 757 0081 of Lezanne by 084 854 1897.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button