Local newsNews

Gestorwe uniformdraers word met kranslegging onderhou

Presies 117 jaar gelede op dié dag is Salmon van As tereggestel. Mede MOTHs, oudkommandolede asook veterane en familie van afgestorwe uniformdraers het die dag bygewoon en kranse gelê.

Die jaarlikse parade vir Salmon van As en gestorwe uniformdraers by die Ou Tronk het op 23 Junie plaasgevind. Presies 117 jaar gelede op dié dag is Salmon van As tereggestel. Mede MOTHs, oudkommandolede asook veterane en familie van afgestorwe uniformdraers het die dag bygewoon en kranse gelê.

 
Ds Zet Robberts het die parade met gebed geopen en vir ons land en sy toekoms gebid. Kraay van Kraayenburg (lid van Suikerbosrand Shellhole) het die gassprekers aangekondig en eerste aan die woord was Michael Theron. Hy het vertel van sy jong dae as Engelsman tussen die boerseuns tydens opleiding in die weermag en hoe Boer en Brit met een doel voor oë saamgewerk het.

 
Majoor Maurice Leonard het hierna gaste meer vertel oor die destydse Heidelberg Kommando en het verklap dat sy oupa deel van die oorspronklike groep kommando’s in Heidelberg was. Van Kraayenburg het eer aan gestorwe kamerade, bekend aan Suikerbosrand Shellhole, asook Heidelberg Kommando gebring.

 
Evert Pistorius (Old Bill) het die eer gehad om meer oor Salmon Gerhardus van As te vertel. Oudergewoonte sou die geskiedenis van Van As oorgedra word, maar dié jaar was dit anders. Hy het ‘n gedig wat vir Van As (deur ‘n anonieme skrywer) geskryf is, voorgelees. Hier is ‘n uittreksel uit die gedig:

 

“Die vrede toe dit kom, was bitter soos gal. Van As se lewe was die prys reeds bepaal. Sy lewe sou hy as offerlam boet. Om Engeland se wraaklus te voed. Sy generaal gee raad en Van As kom na vore. Onwetend die lot hom reeds vooraf beskore. Teen die ou tronkmuur word hy tereggestel. Hy weier die blinddoek, oop oë wou hy sy Here ontmoet. Tien Somerset troepe staar hy in die gesig. Kom nou o vyand, voer uit jul plig!”

 

Van As is op 2 Mei 1878 gebore. Hy was die seun van Hendrik Sebastian Van As en Maria Elizabeth Maritz en het as veldkornet tydens die Boereoorlog as lid van die Heidelberg-kommando gedien. Hy was met die ‘moord’ op kaptein RCH Miers verbind.

 
Die voorval het op 25 September 1901 by Riversdraai (12 myl suid) van Heidelberg plaasgevind. Kaptein Miers het die Boere onder ‘n wit vlag genader, waarskynlik met die doel om hulle te oortuig dat hy oorgee. Wat presies gebeur het, is nie bekend nie. Die Britse bewering dat die kaptein koelbloedig doodgeskiet is, maak dit ‘n oorlogsmisdaad. Van As het egter beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het.

 
Op 23 Junie 1902 (na die vrede van Vereeniging) is hy deur ‘n Britse hofmaarskalk aan moord skuldig bevind en tot die dood veroordeel. Hy was in die tronk in Heidelberg opgesluit.
Van As het ‘n brief aan sy ouers en verloofde geskryf en vroegoggend op 23 Junie is hy teen die tronkmuur geplaas. Tien soldate van Somerset was die lede van die vuurpeloton.

 

MOTH-lede staan op aandag terwyl afgestorwe kamerade se name voorgelees word op vanjaar se parade vir Salmon van As en afgestorwe uniformdraers wat op 23 Junie, presies 117 jaar nadat sy teregestelling is by die Ou Tronk plaasgevind het.

 

Hy het geweier om geblinddoek te word. Die teregstelling het agter die tronk plaasgevind. Die koeëlgate in die muur bly as getuienis van daardie gebeurtenis. Sy lyk is in ‘n  kombers toegedraai en is in ‘n vlak graf langs die pad na die Heidelbergse Begraafplaas begrawe.

 
‘n Paar jaar later het Van As se pa ‘n apologie van die Britte ontvang waarin hulle erken dat die hofsaak onreëlmatig was en dus Van As nie ‘n regverdige verhoor ontvang het nie. Vergoeding is aan die familie aangebied, maar hulle het dit van die hand gewys.

 
Verskeie lede van die uniformdraers, MOTHs en familielede van afgestorwe uniformdraers het na die toesprake die geleentheid gehad om kranse by die gedenksteen te lê. Kranse van rooi blomme en kruise uit hout is neergelê. Die MOTH Motorcycle Club (MMA) het ook ‘n geraamde gedenkstuk by die kranse gevoeg.

 

Majoor Maurice Leonard toon eer aan destydse Heidelberg Kommandolede wat hul lewens verloor het deur ‘n krans te lê op 23 Junie tydens die parade vir Salmon van As en afgestorwe uniformdraers wat by die Ou Tronk plaasgevind het.

Gedurende die parade het die MOTHs  getrou bly staan ter nagedagtenis aan afgestorwe kamerade. Die generaal majoor het die MOTHs op gepaste tye tot aandag gebring en op die plek rus laat staan.

 
Van Kraayenburg het na afloop van die seremonie die bedankings gedoen en Evert Pistorius het met die MOTH gebed afgesluit. Gaste het die geleentheid met heildronke en ‘n ete wat deur die MOTHs voorsien is, afgesluit.

 
Vir navrae rakende die MOTHs Suikerbosrand Shellhole kan Evert Pistorius by 082 462 3894 geskakel word.

 

Volg ons op:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button