Brandslagoffer is tuis

Heidelberg man wat uit brandende huis gered is, herstel wonderbaarlik.

“Dit is ‘n wonderwerk en ons glo dat dit honderde mense se gebede was wat daartoe bygedra het dat Adriaan so mooi herstel het.” Dit is hoe Adriaan Venter (44) se familie voel nadat hy Donderdag 27 Junie uit die hospitaal ontslaan is.

 

Adriaan en sy vrou Cindy is in die nagtelike ure van 16 Junie deur ‘n vuur in hul huis oorval en kon nie by die deur en sekuriteitshek uitkom nie. Bure en sekuriteitsbeamptes het tot die egpaar se redding gekom.

 

Cindy is op 23 Junie uit die hospitaal ontslaan, maar Adriaan wat baie skade aan sy longe opgedoen het, het eers op 22 Junie stadig uit sy koma ontwaak.

 

Volgens Adriaan se skoonsuster Liza was dokters so tevrede met sy vordering dat hy gister ontslaan is. Die egpaar sterk by familie in Heidelberg aan.

 

Skenkings wat reeds ingekom het, word werklik deur die familie waardeer aangesien die gesin alles verloor het. Adriaan, Cindy, Wian (5) en Kayla (9) het dringend klere en skoene nodig. Klere vir Adriaan is veral nou ‘n groot behoefte. Hy dra ‘n nommer 38-40 broek, ‘n XXL hemp en nommer 10 tot 11 skoene.

 

Die gesin wil in besonder die persoon wat R10 000 geskenk het bedank. “Dit was ‘n groot geskenk en werklik baie welkom,” het Liza gesê.

 

Enigeen wat kontant skenkings wil gee, kan dit in Cindy se rekening by AC Venter, Capitec Bank rekeningnommer 1650238809, takkode 470010 inbetaal. Skenkings van klere, beddegoed en enige huishoudelike items kan by Romynstraat 101, Rensburg afgelaai word of skakel Liza by 079 847 5712.

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version