Nigel-egpaar se moordenaar kry twee keer lewenslank tronkstraf

Gesin sluit hartseer hoofstuk af.

Die naasbestaandes en familie van die Pienaar-egpaar wat drie jaar terug op 19 Maart 2016 wreed vermoor is, kan uiteindelik die grusame hoofstuk afsluit nadat Tumelo Sisa Mathibela (24) op 5 Junie aan die dubbele moord op Allan (69) en Chrissie Pienaar (65) skuldig bevind is.

 
Die liggame van die egpaar is by hul huis in Leedslaan, Ferryvale gevind. Volgens polisie woordvoerder A/O Von Wielligh was die liggame omstreeks 22:40 op 19 Maart 2016 ontdek nadat polisie in Duduza inligting van ‘n polisie-informant ontvang het oor ‘n verdagte voertuig wat in die omgewing opgemerk is. Die polisie het die inligting opgevolg en ‘n verdagte aangekeer wat in besit was van die egpaar se gesteelde voertuig, asook verskeie items wat aan die egpaar behoort het.

 
Lede van Nigel SAPD is na die huis in Leedslaan ontbied, waar hulle op die liggame afgekom het. Die 67-jarige Allan Pienaar se liggaam is op die kombuisvloer met verskeie steekwonde gevind. Sy vrou Chrissie (65) se liggaam is buite die huis in ‘n mangat gevind. ‘n Polisietaakspan het later drie verdagtes in verband met die moord aangekeer.

 
Regter draai nie doekies om nie

Regter Tshifhiwa Maumela het gesê dit is skokkend hoe Mathibela die goedhartigheid van sy werkgewers misbruik het om hulle wreedaardig te vermoor.

 

“Dit is duidelik uit die getuienis dat die egpaar nie sommer enigiemand in hul huis toegelaat het nie. Hul ondergang was om die beskuldigde te vertrou en vir hom die deur oop te maak,” het Maumela gesê.

 
“In die kombuis en oral in die huis was daar bloed en tekens van ‘n struweling. Die egpaar se laaste oomblikke moes angswekkend gewees het,” het die regter gesê.

 
“Die getuienis hier wys sy dade was haarfyn beplan. Hy het vir die polisie gesê hy neem die voertuig na ‘n motorwerktuigkundige, terwyl hy geweet het dat hy die eienaars van die voertuig vermoor het,” het regter Maumela gesê.

 
Hy het verder ook gesê Mathibela het geen ware berou vir sy dade getoon nie, maar die vriende en familie van die oorledenes deur ‘n helse beproewing laat gaan toe hulle na die grusame besonderhede van die moord moes luister nadat hy skuld ontken het. Hy het ook geen verduideliking vir sy dade gegee nie.

 

Tumelo Sisa Mathibela (24) op 5 Junie in die beskuldigdebank in die Hooggeregshof in Pretoria waar hy aan die dubbele moord op Allan (67) en Chrissie Pienaar (65) op 19 Maart 2016 skuldig bevind is en tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis is.

 
Normaalweg sou Mathibela se jong ouderdom in sy guns tel met vonnisoplegging, maar die gewelddadige aard van die moorde het die regter anders laat besluit. Op elke klag van moord het hy Mathibela tot lewenslange tronkstraf gevonnis en tot nog 15 jaar op die klag van roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word en Mathibela mag nooit weer ‘n vuurwapen besit nie.

 
Die Pienaar-egpaar was 46 jaar getroud en word deur ‘n seun Wouter, twee dogters, Antoinette en Jacquelene, en vyf kleinkinders oorleef.

 

Volg ons op:
Exit mobile version