Local newsNews

‘Verdagtes’ gesoek vir vanjaar se grootste, prettigste fondsinsameling

Jail or Bail

Lesedi Community Centre se tweede Jail or Bail fondsinsameling word vanjaar vir 16 Augustus by die Ou Tronk beplan.

 
Die eerste fondsinsameling van sy soort was nie net hope pret met ongeveer 25 sakelui en ander inwoners wat deelgeneem het nie, maar R100 000 is binne ‘n paar uur ingesamel.

 
Gemeenskapslede word op fiktiewe aanklagte in hegtenis geneem. Hulle word dan deur Heidelberg SAPD in ‘n vangwa na die Ou Tronk vervoer waar hulle geboei agter tralies moet sit. Die ‘verdagtes’ word voor Sy Edele Mnr Corrie Human gebring wie die borgbedrag sal bepaal. Die tronkvoëls sal slegs vrygelaat word indien die borg ten volle betaal is.

 
Verlede jaar moes Ds Bennie de Klerk se gemeente ‘n bedrag kontant vir sy borg insamel. Die ‘landdros’ was egter onverbiddelik en dit was eers nadat die dominee ‘n sak wildsbiltong beloof het, dat hy vrygelaat is.

 

Yvonne van Coller (redakteur) van HERAUT was verlede jaar ‘n groot bok vir sports en was een van die ‘tronkvoëls’ wat deur Kaptein Tshilate in hegtenis geneem is. Sy het reeds aangedui dat sy weer vanjaar haar tyd sal opoffer om ‘agter tralies’ aangehou te word.

Indien jy aan iemand kan dink wat gearresteer moet word, stuur ‘n e-pos na jailorbail@heidelberglcc.ngo.

 

Die ‘oortreding’ kan enigiets wees soos die ooplos van die toiletsitplek, base wat nie hul werkers verhogings gee nie of jou man wat nie die tandepastabuisie toedraai nie. Die Vatvas Dansorkes sal vir musiek uit die boonste rakke sorg, terwyl besoekers en ondersteuners iets te ete of drinke kan koop.

 
LCC is ‘n nie-winsgewende organisasie wat met armoedeverligting in Heidelberg help. Tans word 42 inwoners by die hawe in Rensburg gehuisves en sowat 6 600 gekookte maaltye en voedselpakkies ter waarde van R53 000 word maandeliks versprei.

 
Jail or Bail sal om 12:00 afskop en al is jy nie een van die ‘verdagtes’ nie, kan jy dit as toeskouer geniet. Pret vir kinders sal beskikbaar wees sodat gesinne saam die middag en aand kan verkeer.

Vir meer besonderhede kan Lezanne Scholly Hattingh by 084 854 1897 of Jaco Kritzinger by 072 575 0081 geskakel word.

 

 

Volg ons op:

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button