Unieke damesdag vir oud en jonk op 13 Julie beplan

Die eerste funksie wat op die plaas La-Roson (sowat 13km buite Heidelberg op die Vereeniging-pad) aangebied sal word, is propvol insiggewende praatjies en demonstrasies.

‘n Damesdag vir jonk en oud met volop interessante praatjies, verrassing geskenkpakke en heerlike eet- en drinkgoed is wat op 13 Julie op plaaslike dames wag. Met ‘n tema boonop soos ‘Adam en Eva’ kan daar nie verkeerd gegaan word nie.

 
HERAUT het hande gevat met Heidelberg se eie internasionale stylikoon, Sandra Taljaard en Sonja Rosslee (eienaar van Kosmos Sublimation Printers) om ‘n damesoggend uit die boonste rakke aan plaaslike vroue te bied. Die oogmerk is om dit vier maal ‘n jaar (elke keer met ‘n ander tema, gassprekers en demonstrasies) aan te bied. Dit sal as die Kosmos Cares-groep bekendstaan en ‘n gedeelte van die wins sal aan verdienstelike plaaslike organisasies geskenk word.

 
Die eerste funksie wat op die plaas La-Roson (sowat 13km buite Heidelberg op die Vereeniging-pad) aangebied sal word, is propvol insiggewende praatjies en demonstrasies. Sandra sal wenke aan die gaste gee oor klerekasbeplanning, grimering en meer (almal wat al praatjies deur Sandra beleef het, sal weet dat dit ‘n eiesoortige ervaring is wat beloof om die lagspiere oortyd te laat werk).

 
Dr Jan-Hendrik Lamprecht (plastiese chirurg) gaan ‘n interessante praatjie lewer en vrae beantwoord. Hy staan Sandra dikwels by wanneer sy besig is met oormaaksessies (make-overs).
‘n Dieëtkundige en finansiële beplanner sal waardevolle inligting deel en musiek sal deur ons eie Vatvas Dansorkes verskaf word. Die orkes sal onthou word vir die bekende Vyfster temalied wat hulle meesterlik uitvoer. Hulle het ‘n paar jaar gelede saam met hul vervaardiger Ernie Bates ‘n video opname hiervan in die Ou Tronk gemaak. Die orkes het ook vanjaar die gesogte Ghoema-toekenning vir beste boere/tradisionele musiekalbum gewen.

 
Dames sal met ‘n glasie sjerrie begroet word. HERAUT het ‘n voëltjie hoor fluit dat ‘vyeblare’ aan ‘n beeld van ‘Adam’ (as ysbreker) gespeld gaan word – natuurlik geblinddoek.
Elke gas sal ‘n geskenkpak met heerlike verrassings ontvang. ‘n Driegang ete gaan bedien word met koffie, tee en appelsap (om by die tema aan te sluit). ‘n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.

 
Behalwe heerlike pryse wat deur middel van gelukkige trekkings gaan geskied, sal twee dames ook ‘n Style Challenge International oormaaksessie wen.
Die oggend begin om 09:30 vir 10:00 en kaartjies is R300 per persoon en kan by Sonja by 083 535 7189 of HERAUT se kantore (Ueckermannstraat 9) by 016 341 6373/4/7 bespreek word.

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version