Kitty weer in die nuus ná 68 jaar

Kitty is deur en deur ‘n boervrou en het as kind in Ermelo dikwels met haar kaal tone in die beesmis gespeel.

Kitty Joubert (74) het 68 jaar gelede as sesjarige dogtertjie op Landbouweekblad se voorblad saam met haar geliefde Jersey kalfie Kolletjie verskyn.

 
Die tydskrif het in Mei sy 100ste bestaansjaar gevier en vir Kitty in Heidelberg opgespoor.

 
Kitty is deur en deur ‘n boervrou en het as kind in Ermelo dikwels met haar kaal tone in die beesmis gespeel. Dit was tydens die Ermelo Landbouskou in 1951 waar haar pa sy melkkoeie geskou het, toe Kitty deur die fotograaf van Landbouweekblad gekiek is.

 
Sy onthou nog die rok met treine op wat haar ma Jeanette vir haar gemaak het. “Ek kan net nie onthou of Blommetjie toe ‘n prys gewen het nie,” het Kitty geskerts.

 

Kitty Joubert het 68 jaar gelede as kind op die voorblad van Landbouweekblad gepryk.

 

 

Kitty Joubert het 68 jaar gelede as kind op die voorblad van Landbouweekblad gepryk.

 

Sy het ná skool BA tale aan die universiteit van Potchefstroom studeer en is na afloop van haar studies as junior lektor in Zulu aangestel (sy praat vandag nog vlot Zulu). Sy is later met Frik, ‘n ou skoolmaat en destydse beesboer van Ermelo, getroud. Die egpaar het vier kinders en nege kleinkinders.
Hulle het jare gelede hul grond in Ermelo verkoop en na Upington verhuis waar hulle langs die Oranjerivier geboer het. Kitty sê dit was eers ‘n groot aanpassing, maar die Noord-Kaap het weldra in haar hart gekruip.
Hulle het in 2015 in Heidelberg kom aftree om nader aan die kinders te wees.
HERAUT het Kitty na Elim Melkery in Zuidstraat geneem om haar weer by ‘n kalfie af te neem. Sy het dadelik ‘n kalfie met ‘n kol op sy voorkop raakgesien wat baie soos haar destydse Kolletjie lyk.
Kitty het sommer dadelik tuis tussen die kallers gevoel en kon nie die versoeking weerstaan om die kalfie ‘n stywe druk te gee nie.

 

 

Exit mobile version