Suiker vir ‘n dag van kerrie, rotis verruil

Sariefa Dangor het gesogte lekkernye soos samoesas en rotis tydens die tak se vergadering op 11 Mei demonstreer.

Dames van die Protea-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde het die voorreg gehad om tradisionele Indiër geregte te leer maak.  Sariefa Dangor het gesogte lekkernye soos samoesas en rotis tydens die tak se vergadering op 11 Mei demonstreer.

 
Sy het ‘n hoender maalvleis vulsel vir die samoesas gemaak en het die wenk gegee dat die olie nie te warm moet wees wanneer jy jou samoesas braai nie.  Van die dames het ingespring en met die rol van die deegballe van die rotis gehelp. Sariefa sê mens kan rotis met gemak vries en dan in die mikrogolfoond opwarm. Sy het egter gewaarsku dat dit nie te lank in die mikrogolfoond moet bly nie, aangesien dit dan sal pap word.

 

Helena Naudé en Ilse van der Walt van die Protea-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde het hul hand gewaag aan die maak van rotis terwyl Shariefa Dangor hulle touwys maak.

 

 

Rotis kan met enige vulsel van jou keuse geëet word, maar tradisioneel word dit met botter of met konfyt saam met tee geniet.  Een van die lede, Aadila Jada het vertel hoe sy as kind vir haar ouma met die rol van die roti deeg moes help.

 

“My ouma Bibi Ayesha Jada (96) is ‘n oud-Heidelberger wat nou by ‘n kleindogter in Groblersdal woon. Ons kleinkinders moes hand bysit as daar gebak is en sy het nie nonsens gevat nie. As jy die deeg nie perfek rond rol nie, is jy oor die hande geraps,” het Aadila gesê.

 

Sy is egter dankbaar vir haar ouma se lesse want vandag kan sy die baktradisie voortsit sodat dit nie vir haar kinders verlore gaan nie.

 
Indien jy graag waardevolle gebak lesse wil leer of interessante demonstrasies wil bywoon, is jy welkom om by die Protea-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde aan te sluit. Die tak vergader elke tweede Saterdag van die maand om 09:00 by Crime Stop Sekuriteitsdienste op die Vaaldampad. Vir meer besonderhede kan Sonja Scholtz by 082 632 7371 geskakel word.

 

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version