Geen koue skouer vir Heidelberg se weerloses

Dié mense is egter nie heeltemal vergete en verlore nie.

Heidelberg se middedorp is bedags ‘n bedrywige warboel van inwoners, voertuie, klanke en geure wat die lug vul. Snags is dit egter ‘n heel ander storie wanneer die donker toesak en strate verlate lê.

 
Doen jy die moeite om stadig in die strate te ry en te kyk wat op die sypaadjies aangaan, sal jy donker figure sien wat styf teen mekaar lê in ‘n poging om ‘n bietjie hitte in hul liggame te kry.

 

Dis ‘n harde lewe en baie van dié ‘vergete’ straatbewoners is dwelmbeneweld, want soos een van die mense dit self stel: “Dit help om die koue te verdryf en dan voel mens nie die ongenaakbare hardheid van die grond waarop ons lê nie”.

 
Dié mense is egter nie heeltemal vergete en verlore nie. Lesedi Community Centre en ‘n handjievol toegewyde inwoners het dit hul roeping gemaak om ‘n oog oor die nagbewoners van Heidelberg se strate te hou.

 

Estiaan Grundling is een van die kinders wat saam met die groep besorgde inwoners op ‘n nagtelike uitreik gegaan het om te sorg dat talle hawelose mense iets warm in hul mae kry.

 
LCC het ‘n voedingskema waar hulle weeksdae om 16:00 sop en brood voor die Anglikaanse Kerk (op die hoek van Voortrekker- en Maraisstraat) aan sowat 50 hawelose mense uitdeel.

 
Jaco Kritzinger (bestuurder), Lezanne Scholly Hattingh, Wicus Hattingh en Ounie Coetzee (GPF) neem egter tyd uit hul besige skedules om so gereeld as moontlik op ‘n Saterdagaand ná donker vir die mense (waar hulle op sypaadjies lê en slaap) sop, brood en komberse te neem. Dit gee hulle kans om met elke persoon individueel te gesels en toe te sien dat hulle die nodige hulp ontvang.

 

“Ons ken meeste van die straatbewoners en het baie van hulle met berading en slaapplek probeer help. Ongelukkig is dit nie altyd suksesvol nie en daar is baie van hulle wat telkens na die straat en ongelukkig ook na ‘n lewe van dwelms terugkeer,” het Lezanne vertel.

 

Die groep inwoners gesels met ‘n hawelose paartjie terwyl hulle ‘n warm koppie sop en brood geniet.

 

 

 
Hoewel Lezanne en Ounie hulp in hul persoonlike hoedanigheid aanbied, is hulle ook by SANCA betrokke en kan dus mense na dié organisasie verwys.

 
Die groep het ‘n minibus waarmee hulle die nagtelike barmhartige Samaritaanwerk doen en word vergesel deur gesinne en individue van die dorp wat in die uitreik belangstel.

 

“Ons neem ook kinders op die uitreik, want dit is ‘n ander sy van die lewe wat hulle nie voorheen geken het nie en dit beteken baie vir hulle om iets vir hul medemens terug te gee,” het Jaco gesê.

 
Die groep het op 18 Mei tydens so ‘n naguitreik op ‘n 23-jarige jong man afgekom wat hulle nie geken het nie. Hy het gesê dat hy van Standerton af kom en na Heidelberg gereis het op soek na werk. Jaco het dadelik werk daarvan gemaak om vir die man slaapplek by LCC se skuiling te kry. “Dit is belangrik om mense wat nog skoon van dwelms is so gou moontlik van die strate af te kry voor hulle in dié gewoonte verval,” het Jaco verduidelik.

 

Lezanne Scholly Hattingh en Ounie Coetzee buk besorgd by ‘n hawelose man wat in Shalimar Ridge saam met ‘n groep straatbewoners op die sypaadjie slaap. Die dames het saam met ‘n groep besordge inwoners tydens ‘n nagtelike uitreik verskeie hawelose mense in Heidelberg se strate van sop en brood voorsien.

 
Enigiemand wat belangstel in die uitreike kan Jaco, Lezanne of Ounie skakel. Hulle benodig ook dringend komberse vir hawelose mense, asook skenkings van voedsel of fondse wat gebruik kan word om na dié mense om te sien. Vir meer besonderhede kan Lezanne en Ounie by 016 349 2892 of 084 854 1897 (Lezanne) of Jaco by 072 757 0081 of 016 349 2605 geskakel word.

 

Volg ons op:

 

 

Exit mobile version