Dubbel orgaan-oorplanting is vir Deon die grootste geskenk.

Hy het ‘n pankreas asook ‘n nier ontvang en dit slegs agt dae voor sy 32ste verjaardag. “Dit is die grootste geskenk waarvoor ek kon vra,” het Botha gesê.

‘n Tweede kans op lewe was nog nooit meer van toepassing vir Deon Botha as nou nie. Hy het op 10 September 2018 ‘n dubbele orgaanoorplanting te Wits Donald Medical Centre ondergaan. Hy het ‘n pankreas asook ‘n nier ontvang en dit slegs agt dae voor sy 32ste verjaardag. “Dit is die grootste geskenk waarvoor ek kon vra,” het Botha gesê.

 
Om op die ouderdom van 18 maande met tipe-1 diabetes gediagnoseer te word was ‘n skok vir Botha se familie. Terselfdetyd moes hulle verneem dat sy een nier ingegee het. Hy is dadelik met insulien inspuitings begin behandel, soms vyfmaal ‘n dag. Hy het reeds op ‘n jong ouderdom besef dat hy nie soos die res van sy maats by die snoepie kan eet wat hy wil nie en dit het vir die volgende 31 jaar so gegaan. Sport was verbode volgens sy dokters, maar Botha was op hoërskool ‘n kranige rugbyspeler. “My pa het langs die veld gehardloop met gaskoeldrank en super-C’s.

 

Wanneer halftyd aangebreek het en my spanmaats lemoene sou eet, het ek coke gedrink,” skerts Botha.

 
“Dit voel nog onwerklik. Soms wanneer ek eet dink ek skielik ek het nie my insulien gespuit nie, dan kom my brein by en besef ek, ek het dit nie meer nodig nie,” vertel hy. Botha sê dat dit nie maklik was om in ‘n hospitaal groot te word nie, maar hy kon steeds sy skoolloopbaan by Hoërskool John Vorster voltooi en daarna ook sy vakmanskap as elektrisiën. In 2010 het sake egter verander. Hy het sig in sy linkeroog verloor en is ook met nierversaking gediagnoseer. Botha is dadelik op dialise geplaas (elke tweede dag vir vier ure) en dit het sy lewe geword.

 

“Twee weke voor ek die nuus gekry het dat organe vir my beskikbaar geword het, het ek opgegee. Ek het die oggend vir dialise gegaan, maar toe vir my dokter gesê dat ek klaar is. Ek het emosioneel en liggaamlik genoeg gehad,” vertel Botha. “Godsgeluk het my dokter my oorreed om nie op te gee nie,” het hy bygevoeg.

 
Die oggend van 8 September het Botha se lewe vir altyd verander. Dit was die dag wat hy in kennis gestel is dat daar organe vir hom beskikbaar is. Die oggend van sy operasie op 10 September was soos ‘n droom. Botha is daardie aand om 19:00 in die teater gestoot. Hy is eers na 02:30 uit die teater waarna hy in die intensiewesorg eenheid aangesterk het.

 

‘n Span van 10 dokters het die operasie uitgevoer en Botha is hulle ewig dankbaar. “Aan my hele oorplantingspan en verpleegpersoneel by Wits Donald Gordon Medical Centre, Drs R Brits, M Schamm, V van der Schyff en A Beeton en die hele span, dankie vir die tweede kans om te lewe,” het Botha in ‘n brief gesê.

 
Agt maande later is Botha by die huis en sterk goed aan. Hy was op 14 Mei vir ‘n opvolg doktersbesoek en al sy uitslae was voortreflik en dit voorspel ‘n gesonde, liefdevolle lewe met sy nuwe organe. Hy kan selfs weer begin gimnasium toe gaan en daar bietjie van frustrasie ontslae raak. “As mens so dag in en dag uit in dieselfde plek is, kan dit met jou kop smokkel,” vertel hy.

 
Botha is tans op verskeie middels wat help om sy nuwe organe die beste moontlike kans in sy liggaam te gee. Saam met anti-verwerpingsmedikasie asook immuun onderdrukkers is ‘medisinale steroiede’ voorgeskryf. “Ek is medies verplig om ‘roids’ te gebruik,” skerts Botha.

 

“Sonder God is niks moontlik nie. Soveel soos wat ek nagte omgehuil en vrae gevra het, het God my gehoor,” het Botha gesê. “Mense, wonderwerke gebeur en alles is moontlik deur die Here. Aan almal wat lees, word asseblief ‘n orgaanskenker. Dit red lewens en ek is ‘n lewende voorbeeld daarvan, het ‘n dankbare Botha afgesluit.

 

Volg ons op:

 

Exit mobile version