Local newsNews

Sandra het Chicago aan haar voete

As gevolg van haar verhouding met internasionale mense in die modebedryf, is sy na die gesogte AICI konferensie genooi.

Sandra Taljaard is nie net ‘n plaaslike stylikoon en voorkomskonsultant nie, sy skuur ook gereeld skouer met internasionale modehuise en bekendes. Dié bedrywige vrou (sy gee onder andere vir mense in Suid-Afrika sowel as oorsee oormaak modesessies, tree op as gasspreker en is die moderedakteur van ‘n aanlyn tydskrif) is genooi om op ‘n loopplank in Chicago, Amerika voor internasionale bekendes in die modewêreld tydens ‘n modevertoning te loop.

 
Sandra was deel van die AICI (Association of Image Consultants International) se globale konferensie wat van 3 tot 7 April in Chicago aangebied is. Sy gaan gereeld oorsee om seker te maak dat sy van die nuutste mode tendense op hoogte bly. Nie net het Sandra kliënte regoor Suid-Afrika nie (menige Heidelberger het al onder haar towerstaf deurgeloop), maar sy vlieg gereeld na die buiteland waar sy dames van moderaad voorsien.

 

Sandra Taljaard op die rooi tapyt tydens die AICI globale mode konferensie wat in Chicago aangebied is. Haar uitrustings vir die geleentheid is deur Suid-Afrikaner Dazelle Venter van Boksburg ontwerp.

 

As gevolg van haar verhouding met internasionale mense in die modebedryf, is sy na die gesogte AICI konferensie genooi.

 
Sandra moes twee uitrustings op die loopplank vertoon en kon ‘n ontwerper van haar eie keuse kies. Sy het besluit om ‘n Suid-Afrikaanse ontwerper, Dazelle Venter van Be Dazzled in Boksburg te gebruik. Dazelle is bekend vir haar ontwerpe van die uitrustings vir die sangers van Classics is Groot-faam.

 
Die modekenners was gaande oor die ontwerpe en Sandra moes daar en dan Dazelle se kontakbesonderhede met hulle deel. Soos almal wat vir Sandra ken weet, kan jy dié dame altyd deur ‘n ring trek. Selfs haar daaglikse uitrustings (Sandra verklap dat sy dit by ‘n plaaslike winkel in Heidelberg Mall aangeskaf het) het die Amerikaners gaande gehad en hulle het beslis anders oor Suid-Afrika begin dink.

 
Haar loopplankuitrusting was ‘n broekpak met ‘n uitskop wye balromp, en ‘n eenskouer pofmou bo. Die linkerskouer is kaal met net ‘n mouboordjie om die pols. Sandra het soos ‘n koninklike in dié indrukwekkende pers uitrusting vertoon.

 

 

Sandra Taljaard tydens haar besoek aan Amerika waar sy kennis oor die nuutste modes en tendense opgedoen het.

 

Dazelle het ‘n swart kantrok met ‘n lang sleep vir Sandra as aanddrag (vir die gala funksie) ontwerp.

 
Sandra en haar man Koos het na afloop van die konferensie deur sewe state van Amerika getoer. Voor hulle na Suid-Afrika teruggekeer het, het hulle New York besoek waar Sandra verskeie modewinkels besoek het om haar van die nuutste somermodes vir 2019/2020 te vergewis.

 

Sandra Taljaard tydens haar besoek aan Amerika waar sy kennis oor die nuutste modes en tendense opgedoen het.

 

Sandra is dit eens dat haar besoek aan Amerika ‘n goeie leerskool was en dat sy propvol nuwe mode idees (bemeester die mans klerekas, nuwe klerekas vir dames kliënte, sosiaal- en korporatiewe uitrustings, kleur analise, hare, grimering vir elke soort gesigvorm, analise van gesiguitdrukkings en figuur analise) na haar eie mense teruggekeer het.

 
Sy het die versekering gegee dat Heidelberg se mense haar steeds na aan die hart lê en dat sy altyd tyd vir haar tuisdorp se mense sal inruim.

 

 

 

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button