Local newsNews

Hier skyn elke kind se ster helder

Galaxy Children's Village se harte loop van dankbaarheid oor

‘n Veilige en liefdevolle hawe vir kinders wie se ouers nie meer na hulle kan omsien nie en wat geen ander heenkome het nie – dit is Galaxy Children’s Village waar Theresia van Eyssen soos ‘n ware Moeder Teresa haar hart vir dié kinders oopgemaak het.

 

 
Dit het begin toe sy en haar man ‘n paar jaar gelede hul huis vir twee seuntjies oopgemaak het. Die seuns se ma was ‘n Thaise vrou wat in Suid-Afrika kom werk soek het. Sy het swanger geraak, maar kon nie in Suid-Afrika aanpas nie en het later besluit om na haar geboorteland terug te keer en kon nie haar kinders saamneem nie.

 

 
Theresia se man is intussen oorlede en sy het na Heidelberg verhuis waar sy Galaxy Children’s Village in 2015 begin het. Die Maatskaplike Raad het nog kinders na haar gestuur en vandag is Theresia en haar huis ‘n ware toevlugsoord vir 11 kinders wat baie lief vir hul ‘Nenna’ is.

 

 
Een van die verhale van Theresia se kinders wat mens veral aan die hart gryp is die drie-jaar-oue seuntjie wat as baba van net ‘n paar uur oud in haar sorg geplaas is. Die baba se nekkie was heeltemal slap en sy koppie gedraai. Verpleegpersoneel het vermoed dat hy gestremd is en nooit normaal sou kon loop of praat nie.

 

 
Theresia het die baba ingeneem en hoe meer sy met hom gewerk het, hoe minder het sy geglo dat die skade onomkeerbaar was. Met die hulp van fisioterapeute van Heidelberg Hospitaal het die baba se nekkie binne ‘n jaar reggekom. Vandag hardloop die seuntjie soos enige normale kleuter rond terwyl hy vrolik babbel.

 

 
Theresia se kinders se ouderdom wissel tussen drie en 14 jaar. Die oudste dogter is onlangs met Tipe 1 diabetes gediagnoseer en sy moet daagliks ingespuit word.

 

 
Die uitdagings om vrou alleen (sonder staatshulp) ‘n huis vol kinders aan die gang te hou is beslis nie maklik nie. Heidelberg se gemeenskap het egter oor die jare hul beursies en harte vir Theresia en haar kinders oopgemaak, soos die groep inwoners wat jaarliks vir elke kind klere koop en sorg dat daar met Paastyd paaseiers asook Kersgeskenke in Desember is. Daar is ook dames wat sorg dat elke kind met sy/haar verjaardag met koek en geskenke bederf word.

 

 
Theresia sê daar is ook gemeenskapslede wat haar met aanbouings, verf, groente en ander benodigdhede behulpsaam is. Eskort skenk weekliks vleis aan die huis en Lesedi Community Centre voorsien kospakkies.

 

 
Theresia het nie ‘n voltydse werk nie en moet maandeliks R2 500 huur vir die huis (wat aan die Departement van Openbare Werke behoort) betaal. Sy benodig ook skoonmaakmiddels, toiletware en fondse vir water en elektrisiteit.

 

 
Die instandhouding van die groot tuin is ook ‘n uitdaging en kopseer. Sy het nie ‘n grassnyer of bossiekapper nie en die lang gras hou ‘n sekuriteits- en brandgevaar in.

 

 
‘n Ander groot bekommernis vir Theresia is vervoer. Sy het ‘n ou Volkswagen Kombi waarmee sy altyd die kinders vervoer het, maar die voertuig se verkoeler het ingegee en sy het nie die fondse om dit te laat herstel nie. Die kinders moet daagliks na hul onderskeie skole en weer terug huis toe vervoer word. Daar is op die oomblik ouers van die betrokke skole wat saamrygeleenthede bied, maar dit bly ‘n daaglikse stryd om met ‘n huis vol kinders sonder vervoer te moet klaarkom.

 
Indien daar enige motorwerktuigkundige of ‘n besigheid met ‘n werkswinkel is wat bereid is om na die kombi te kyk en herstelwerk/parte wil borg, sal dit ontsettend baie beteken.

 

 
Persone wat behulpsaam kan wees sodat die meisie met diabetes op ‘n hospitaalplan geplaas kan word, sal ook waardeer word.

 
Belangstellendes wat hul hulp by Galaxy Children’s Village wil aanbied, kan Theresia by 079 977 4549 skakel. Die huis is op die hoek van HF Verwoerd- en Uniestraat (oorkant Suikerbosrand NG Kerk) geleë.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button