Local newsNews

Laerskool AG Visser – Die pad vorentoe

Mnr Jaco Billing (voorsitter van die beheerliggaam) het gesê hy het volle vertroue in die span en die aanstelling van ‘n nuwe hoof is hul eerste prioriteit.

Hoewel Laerskool AG Visser nog nie ‘n permanente hoof aangestel het nie, beskik die skool oor ‘n uitmuntende bestuur- en beheerliggaamspan (onder leiding van waarnemende hoof Mnr Leo Ehlers) wat steeds sal toesien dat sake vlot verloop. Die skool is slaggereed om weereens nuwe hoogtes te bereik.

 
“Na die Aanstellingspaneel uitstekende kandidate gekortlys het, is die proses ongelukkig gekortwiek deur kandidate wat ander poste gekry het en hulle van die proses moes onttrek. Alhoewel dit vir Laerskool AG Visser ‘n uitdaging geskep het, maak ons staat op ons ongelooflike sterk bestuurspan om die leisels tydelik vas te hou. Die pos as hoof is reeds aan die department gestuur en die plasing van die pos sal teen einde Mei in die Gazette gepubliseer word. Die pos sal so spoedig moontlik gevul word (volgens alle aanduidings sal dit teen Augustus gebeur).

 

Die Beheerliggaam gaan verseker dat die suksesvolle kandidaat die skool se waardes, standaarde, tradisies en natuurlik Afrikaans en ons Christelike waardes vorentoe sal neem.

 

Lees ook Roothman verlaat Laerskool AG Visser

 

“Tot en met die nuwe hoof aangestel word, gaan die skool onder leiding van Mnr Leo Ehlers, en die bystand van die res van die bestuurspan bestaande uit Mnre Louis Venables, Martin Rabie, Me Tanya Vos en die beheerliggaam die skool se dagtake hanteer. Ons ou hande soos Me Carla Benadé, Me Magda Ehlers, Me Anita Coetzer, Me Elsabeé Gryffenberg, Me Elbé Pauer en Me Heidi Vorster is ook daar om bystand te lewer,” het Mnr Billing gesê.

 

Elke ouer wil net die beste vir hul kind hê (of dit op akademiese, sport of kultuurgebied is) en dit is wat Laerskool AG Visser die toonaangewer maak. Die skool blink uit op alle gebiede.
“Ons moet noem dat ons ‘n tradisievaste skool is met Afrikaans as onderrigtaal. Wat dit betref is ons toelatingsbeleid waterdig.

 
“Ons Christelike grondslag gee die deurslag vir ons sukses. Ons kinders is en bly ons eerste prioriteit. Dis vir ons belangrik dat u kind hom of haarself voluit (in elke gebied uniek aan u kind) kan uitlewe –  hetsy dit op akademiese, kulturele of sportgebied is. Ons poog om steeds ons klasse klein te hou om die individuele aandag aan ons kinders te gee. Ons onderwyserskorps is van uitstaande gehalte en die tipe onderrig wat ons kinders ontvang word weerspieël in die manier wat ons leerders uitblink as hulle hoërskool toe gaan.

 

Nie net het Laerskool AG Visser verskeie kere hoofseuns, hoofdogters en leiers van uitnemende gehalte opgelewer nie, maar ook op akademiese gebied styg ons leerders uit en vele oud-leerders is as beste leerders in die streek tydens matriekuitslae aangewys.

 
“Ons sportmanne en -dogters behaal top prestasies keer op keer en hulle word in Gautengspanne opgeneem en verteenwoordig die skool op internasionale geleenthede. Afrigting van die kinders word deur ons personeel gedoen. Verskeie van die personeel het top prestasies in afrigtingskursusse wat hulle bygewoon het behaal en is ook as gegradueerde skeidsregters aangewys.

 

Alle tuissportbyeenkomste word op ons sportvelde gehou wat twee rugbyvelde, vier netbalbane, twee tennisbane (alles op ons skoolgronde) insluit. Ons bied al die mini sportsoorte soos netbal, rugby, krieket, hokkie, tennis en skaak aan. Op kultuurgebied bied ons revue, redenaars en koor aan en het bekende jong aktrises soos Zonnika de Vries opgelewer. Ons koor het die skool in die TV-reeks ‘Sing in Harmonie’ verteenwoordig.

 

Van ons redenaars het ook na die ATKV se redenaarskompetisies deurgedring – voorwaar uitsonderlike prestasies,” het Mnr Billing voortgegaan. Hy sê die veiligheid van die leerders is ‘n hoë prioriteit. Toegangsbeheerde hekke met ‘n sekuriteitswag aan diens, nuwe sekuriteitskameras in die klaskamers en op die stoepe is getuie hiervan.

 

“As daar enige twyfel was omtrent die skool wat vir u kind die beste is, behoort dit u die antwoord te gee. Ons sien uit om Laerskool AG Visser die skool te maak wat sy skoollied gestand doen: Met liefde sy volk hier dien en liefdediens as taak hier sien,” het Mnr Billing afgesluit.

 

Laerskool AG Visser kan by die volgende nommers geskakel word: 016 341 2631/2106/2329 of 084 890 3414 of 084 943 9025. Die begin van die aanlyn aansoekdatum om toelating vir 2020 vir Gauteng skole is na 20 Mei verskuif. Voornemende ouers is welkom om na die skool te gaan, waar Mev Christa Gladd hul met die prosedure sal bystaan.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button