Graad 1, Graad 8 – aansoeke tot 20 Mei uitgestel

Aansoekstelsel vir skole in Gauteng sal aangepas word

Die uitstel van die begindatum vir aanlynaansoeke vir Gautengse skole sal die provinsiale onderwysdepartement hopelik tyd gee om tegniese probleme met die toelatingstelsel op te los.

 
Volgens Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het die Gautengse onderwysdepartement op die nipper ingestem om die aansoekdatum vir Graad 1- en Graad 8-aanlynregistrasies vir 2020 uit te stel. Aansoeke sou aanvanklik op 13 Mei geopen het, maar dié datum is nou na 20 Mei geskuif.

 
Dié besluit kom nadat verteenwoordigers van Fedsas op 10 Mei met die onderwysdepartement vergader het om probleme en oplossings rakende die provinsie se e-platform vir skoolaansoeke te bespreek.

 

“Die aansoeke, wat slegs op hierdie platform gedoen kan word, sou op 13 Mei geopen het. ‘n Toetslopie, waarby Fedsas betrokke was, het egter probleme met die struktuur en funksionering van die platform aan die lig gebring,” het Colditz gesê.

 
Hy het verduidelik dat die funksionering van die platform nie tans strook met die bepalings van onder meer die Gautengse toelatingsregulasies, die Grondwet en die norme en standaarde vir taalbeleid nie.

 

“Dit is veral rondom die voedersones van skole waar tegniese probleme is wat byvoorbeeld veroorsaak dat al die skole in ‘n aansoeker se onmiddellike omgewing nie volledig gelys word nie.”

 
Colditz sê tydens 10 Mei se vergadering het die department te kenne gegee dat hy reeds begin het om die probleme soos deur Fedsas uitgewys, reg te stel en het onderneem om die stelsel aan te pas en op te volg met nog ‘n toetsfase in samewerking met Fedsas.“Fedsas sal deurentyd hierby betrokke wees om toe te sien dat ouers wel keuses kan uitoefen soos wat deur die toepaslike regsvoorskrifte bepaal word,” het hy gesê.

 
Colditz sê sou die probleme nie opgelos word nie en ouers verhoed word om keuses oor aansoeke uit te oefen, is regsaksie nie uitgesluit nie. “Fedsas beskou dit egter as ‘n laaste uitweg.  Die organisasie het ‘n goeie werksverhouding met die Gauteng onderwysdepartement en ons verkies om as vennote te handel.”

 
AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum het ook verlede week in ‘n brief aan die department hul kommer oor die aansoekstelsel uitgespreek. Die organisasies het gesê hulle is onder meer bekommerd aangesien die stelsel glad nie voorsiening maak daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders in Graad 1 of Graad 8 in 2020 is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taal van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies as die primêre keuse aangebied.

 
Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir Graad R by ‘n laerskool in Gauteng geregistreer is, voorkeur moet geniet vir Graad 1-plasing by die betrokke skool in 2020.

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version