Heidelberger nou leier van wêreldvroue-organisasie

Vir die eerste keer in dié organisasie se 90-jarige bestaan is ‘n vrou uit Afrika verkies.

Magdie de Kock is tydens die ‘Associated Country Women of the World’ (ACWW)  organisasie se driejaarlikse kongres in Australië vanjaar as hul wêreldpresident verkies. Vir die eerste keer in dié organisasie se 90-jarige bestaan is ‘n vrou uit Afrika verkies. Sy sal vir die volgende drie jaar die beelddraer en segspersoon van dié organisasie wees.

 
De Kock kon hierdie eer bekom danksy die Vroue Landbou Unie (VLU) en Dameskring se affiliasie met ACWW.

 
Die ACWW, waarna in Afrikaans nie-amptelik as die Wêreldbond van Plattelandse Vroue verwys word, het meer as 10 miljoen lede wêreldwyd wat in 87 lande vir die opheffing van vroue en kinders in landelike gebiede werk. Die ACWW is ondermeer betrokke by groentetuinprojekte, oprigting van klaskamers, aanbou van hospitaalvleuels en aanbring van waterkrane. Die organisasie is ook lid van die Verenigde Nasies.

 
De Kock is die afgelope 40 jaar lid van die VLU en het op jong ouderdom by dié organisasie aangesluit omdat hul visie dieselfde was, naamlik die opheffing van vroue en kinders. De Kock is ‘n gebore Heidelberger en was ook hoofmeisie van Laer Volkskool.

 
Sy het later in haar lewe, nadat sy haar onderwysgraad voltooi het, in Pretoria saam met haar man Johan gewoon. Magdie was eers ‘n tuisbly moeder vir haar drie spruite. Dit het haar die geleentheid gebied om haar passie vir die VLU uit te leef. Later van tyd het die egpaar besluit om terug te keer na Heidelberg, aangesien hulle hul kinders op die platteland wou grootmaak.

 

“As huisvrou kon ek my stempel afdruk in die gemeenskap deur vrywillige werk te doen.” het De Kock gesê.

 
De Kock is‘n dinamiese vrou. Sy is tans deel van die Heidelberg Kloof se direksie, lid van die Dameskring Heidelberg-tak asook Grootvlei VLU-tak. “Op die rare dae wat ek vry het, geniet ek dit om in te lê tot 07:00, want gewoonlik is ek 06:00 reeds uit die vere. Ek gaan stap en oefen ook gereeld,” het De Kock vertel.

 
Sy het voor haar verkiesing as president vir ses jaar in die ACWW se raad van trustees gedien en was voorsitter van die kommunikasie- en bemarkingskomitee.

 

“Ek besef dat dié eer van die Here kom, sonder Hom sou ek nie kon bereik het wat ek vandag het nie. Dis absoluut die Here se genade dat ek is waar ek is,” het De Kock bygevoeg.

 
De Kock sê dat sy baie uitsien na die nuwe uitdaging en beoog om dit met ywer en deernis te benader.

 
Belangstellendes kan Magdie by 082 502 2497 vir meer inligting oor die Dameskring Heidelberg-tak skakel.

 

Volg ons op:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version