Local newsNews

Schoeman nou deel van elite Piper groep

Slegs 26 manne in SA met 'guardian' rang in dié unieke mesvegkuns

Shalto Schoeman, selfverdedigingsinstrukteur by Elite Defence Academy Heidelberg, het op 1 Maart die rang as “guardian” in Piper Knife Fighting ontvang en is nou een van slegs 26 manne in die land wat hierdie besondere titel agter sy naam het.

Die vegkuns wat kenners in staat stel om mesaanvalle af te weer, is deur die bendes in Suid-Afrikaanse tronke asook straatbendes in die arm voorstede van Kaapstad ontwikkel.

Waar meer tradisionele vorme van verdedigingsopleiding waar handwapens betrokke is in die middel-eeue ontstaan het, is die Piper stelsel spesifiek ontwerp om die gedrag van hedendaagse aanvallers in ag te neem.

Schoeman moes gedurende sy opleiding onder Nigel Februarie se toesig, oorsien aan werklike mesgevegsessies deelneem. Hy is vandag nog nie seker hoekom hy dit gedoen het nie – en hy moes ook die goedkeuring van ‘n paar voormalige tronkvoëls kry om amptelik deel van die elite Piper groep te word.

“Ek was dalk ‘n bietjie mal, maar ek het so baie geleer en sien daarna uit om van hierdie tegnieke wat die lewens van my studente kan red met hulle te deel, ” het Schoeman gesê.

Hierdie nuutste aanwins tot sy reeds indruwekkende arsenaal selfverdedigingvaardighede plaas Schoeman in ‘n klas van sy eie.

Also read -> Shalto slaan Krav Maga toekenning los

HERAUT lesers wat gedurende die 90s die koerant dopgehou het, sal onthou dat Schoeman een van die land se top JKA karatekas was. Wat min mense egter weet, is dat sy passie vir kontaksport as sewejarige in ‘n Benoni bokskryt ontwikkel het. Hy het daarna saam met sy gesin na ‘n meer beskaafde dorp verhuis.

Diegene wat saam met hom op skool was, weet ook dat hy op meer as een geleentheid ingeroep is as manne van buurdorpe in Heidelberg kom skoorsoek het.

Schoeman kon nog altyd enige situasie blitsig en doeltreffend ontlont en het dit uiteindelik sy loopbaan gemaak.

Hy het vroeg besef dat sy vaardighede as instrukteur van waarde vir die gemeenskap kan wees en dat – in ‘n land waar die misdaadsyfer soos die petrolprys aanhoudend styg – dit sy plig is om soveel kennis moontlik in te samel wat uiteindelik lewens kan red.

Dit is dan ook geen geheim dat Suid-Afrikaanse veiligheidsorganisasies nie die mannekrag (en dikwels die opleiding) het om sy burgers te beskerm nie. Dit is ook ‘n feit soos ‘n koei dat misdaad sal bly toeneem, aangesien daar geen teken van die regering se kant is dat hulle binnekort ‘n oplossing vir die toenemende werkloosheidsyfer gaan vind nie.

Volgens Schoeman kan die toename in lidmaatskap by sy selfverdedigingsklasse, wat hoofsaaklik Krav Maga opleiding behels, direk aan die toename in misdaad gekoppel word.

Also read -> Krav Maga studente gradeer

Krav Maga is ‘n militêre selfverdediging- en gevegstelsel wat deur die Israeli weermag se veiligheidsmagte ontwerp is en behels ‘n kombinasie van tegnieke wat voortspruit uit boks, stoei, Aikido, Judo en Karate.

“Ons het twee jaar gelede met Krav Maga begin en toe was daar maar 14 lede. Ons staan nou op 64 lede wat weekliks oefen en die syfer bly groei,” vertel Schoeman.

Sy studente word geleer om die gedragspatroon van ‘n krimineel te identifiseer en om krisissituasies met kalmte te benader.

Hy bied onder meer klasse aan wat mense leer hoe om in verkragting-, motorkaping- en ontvoering situasies op te tree en het onlangs ook begin om sy kennis tot voordeel van die boeregemeenskap aan te wend.

“Plaasaanvalle is ‘n realiteit en ons gaan dikwels uit na plase om sekere basiese tegnieke, veral die hantering van vuurwapens, aan boere oor te dra.”

Volgens Schoeman is daar nie bepaalde ouderdom- of fiksheidsvereistes om by selfverdedigingsklasse aan te sluit nie. Hy meen elke student se kennisvlak word gemeet en daarvolgens sal hy stelselmatig die individu leer wat die regte optrede in noodsituasies is.

Elite Defence Academy Heidelberg is in die ou OK Sentrum in Ueckermannstraat geleë en klasse vind op Maandae en Woensdae tussen 17:00 en 21:00 plaas.

Vir meer inligting of om die eerste stap tot beter persoonlike veiligheid te neem, kan Schoeman by 082 909 2870 geskakel word.

Follow us on:

Related Articles

Back to top button