Local newsNews

Besigheidskamer besoek Heidelberg Heritage Museum

Auto-Ren se belangrikheid in Heidelberg se erfenis word onderstreep

Nuuskierigheid het beslis daartoe bygedra dat Heidelberg Besigheidskamer se vergadering wat by die Heidelberg Heritage Museum plaasgevind het, ‘n goeie opkoms gelewer het.

Die bestuur van die besigheidskamer het dit goed gedink om Maart se ledevergadering by die erfenis museum (wat sy deure amptelik op 1 Maart geopen het) te hou om aan te sluit by hul tema van die jaar, wat ‘Erfenis en Toerisme’ is.

Sowat 60 gaste het die vergadering op 12 Maart bygewoon en het ook die geleentheid gehad om van die erfenisbier by die brouery (waar vier craft biere eersdaags gebrou word) te proe. Dit was ‘n riem onder die hart om te sien dat die treinwaens, terrein en sale tot hul ou glorie gerestoureer is.

Also read -> Heidelberg Heritage Bier is uiteindelik hier.

Die verrigtinge is afgeskop deur die voorsitter van die besigheidskamer, Van Zyl Schultz, wat sy dank teenoor Bouwe Wiersma, die meesterbrein agter die herlewing van die ou stasie, uitgespreek het. Volgens Schultz was die inwoners en sakelui van Heidelberg amper die geboue kwyt danksy die munisipaliteit se roekeloosheid, en dat dit steeds hartseer is dat die voertuie wat eens in die museum gepryk het, nou vir altyd vir die dorp verlore is. Schultz het die belangrikheid van toerisme vir Heidelberg se mense en besighede vlugtig bespreek en gesê dat ondersteuning van plaaslike besighede nie genoeg beklemtoon kan word nie.

Suzan Basson (bestuurslid van Heidelberg Besigheidskamer) het hierna die eteborg vir die aand aan lede bekendgestel. Nie dat Auto-Ren enige bekendstellig nodig het nie. Dié besigheid trap reeds van die 1970s af diep spore in die gemeenskap en is vandag nog bekend vir hul professionele diens – ‘n top handelaar in nuwe en gebruikte voertuie waar die kliënt altyd eerste kom.

Bouwe Wiersma het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die gaste meer te vertel van die bier wat hulle beskikbaar het en groot opgewondheid heers oor die beplanning van ‘n Oktoberfees wat weereens die dorp aan toeriste en besoekers sal blootstel. Wiersma het nuwe lewe in die ou stasie geblaas en elke inwoner kan gerus ‘n draai by die museum gaan maak waar jy deur die treinwaens kan stap, kinders in ‘n veilige pretpark kan baljaar en The Culinary Express sal sorg vir etes en iets vir die keel teen bekostigbare pryse.

Also read -> New look for old station

Hierna het die spreker vir die aand: Dr Willie Pretorius oor die ryke erfenis van Heidelberg gesels. Hy het meer gefokus op bekende figure wat groot rolle tydens die Anglo Boere-oorlog hier in ons omgewing gespeel het. Hy het genoem dat die spoorwegstasie in 1895 geopen is en dat dit ‘n baie belangrike dag vir Heidelberg was.

“Die stasie was ook die bymekaarkomplek vir die jongmense in daardie jare,” het Pretorius vertel. “Dis hier waar die jong manne van die dorp na die “twakkies” kom kyk het wat van die treine afgeklim het,” het hy knipoog aan die gaste vertel.

Hy wou ondanks die ondeunde glimlagte in die gehoor nie uitbrei oor die betekenis van die woord “twakkie” nie.

Van die groot name vanuit die Anglo Boere-oorlog tydperk wat kortliks bespreek is, was Piet Viljoen (wat ‘n kleinseun van Piet Retief was), CJ Spruyt, Ds AJ Louw, JC Kriegler, Dr James O’Reilly en sy vrou Kate en natuurlik ook die geliefde dokter en digter – Dr AG Visser. Dr Pretorius het baie inligting gedeel wat jarelange inwoners nog nooit van gehoor het nie en hy is met ‘n groot applous bedank met die beëindiging van sy toespraak.

‘n Gelukstrekking is ook gehou en dit was dan ook baie gepas dat jarelange lid Paddy Padiachy se naam getrek is, ‘n dag na sy verjaardag. Hy het ‘n ete vir twee by The Culinary Express gewen.

Die vergadering is afgesluit met ‘n vingerete wat deur The Culinary Express voorgesit is en die manne kon naderstaan om die blink Toyota voertuie van Auto-Ren wat op uitstalling by die geleentheid was, van nader te bekyk.

Barries Badenhorst nooi alle Toyota-geesdriftiges uit om hom by 016 341 6107 te skakel om enige nuwe voertuie in hul vertoonlokaal vir ‘n toetsrit te neem.

Die volgende Besigheidskamer vergadering vind op 2 April plaas.

Vir meer inligting hieromtrent kan Schultz by 082 560 2275 geskakel word.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button