NewsSchools

7de Laan akteurs kuier by Volkies

Sewe bekende gesigte pryk op skoolveerhoog

Woorde kan nie die opgewondenheid beskryf wat in Hoër Volkskool se skoolsaal geheers het met die besoek van 7de Laan akteurs op 8 Maart nie.

Elke Volkie het met groot entoesiasme aan die geleentheid deelgeneem waar akteurs met die leerders op ‘n uiters suksesvolle wyse oor onder andere afknouery en groepsdruk gepraat het.

Sewe bekende gesigte wat duisende Suid-Afrikaners elke dag op die kassie sien, het op die verhoog gepryk en niemand kon voorspel wat ‘n positiewe uitwerking hulle op die Volkies sou hê nie.

 

7de Laan akteurs het Hoër Volkskool op 8 Maart besoek en waardevolle inligting oor sosiale media afknouery, groepsdruk en selfmoord gedeel. Op ligter noot het hulle ook meer vertel oor die lewe van ‘n akteur en die interaksie tussen die akteurs en leerders was ongelooflik. Hier is Mev Nellie Rossouw (organiseerder van die geleentheid) en Volkies Nomsa Sihakhane en Vané Dercksen saam met 7de Laan-sterre Markus Haywood (Willem) en Vinette Ebrahim (Charmaine).

 

Die akteurs wat die skool besoek het, is Markus Haywood (Willem), Carina Nel (Alexa), Ingrid Paulus (Vanessa), Theodore Jantjies (Xander), Marcus Muller (Andre), Vinette Ebrahim (Charmaine) en Deirdre Wolhuter (Mariaan).

Also read -> Plaaslike konings van kitskos gedurende April op die kassie

Die akteurs het om die beurt met die kinders gepraat en Volkskool het vinnig gewys dat hulle oor ‘n hele klomp bekkige leerders beskik wat in dié bedryf  sal floreer en akteurs kan word. Leerders het ook baie by die besoekers geleer wat die kunste behels en wat dit verg om ‘n akteur te wees.

Markus Haywood (Willem) het sy bes probeer om Volkies te vertel hoe belangrik harde werk en toewyding is, maar die meisies het hom egter gepeper met vrae oor sy verhoudings, hoeveel meisies hy al op die stel gesoen het en of hy nou ‘n meisie het.

 

Ingrid Paulus (Vanessa) was een van die Volkies se gunsteling 7de Laan akteurs. Hier is sy saam met twee van haar aanhangers by die geleentheid.

 

Op ‘n ernstiger noot het Deirdre Wolhuter (Mariaan) die onderwerp van selfmoord aangeraak en benadruk hoe belangrik dit vir elkeen is om ondersteuning te vind in ‘n vriend, familielid of ouer.
Daar was egter ook tyd vir pret tussen die meer ernstige praatjies en Theodore Jantjies (Xander) het gou die Volkies op hul voete gehad met ‘n danskompetisie wat groot applous uitgelok het. Alhoewel  Xander se passies beïndruk het, was die sterre die skool se eie talentvolle dansers.

Also read -> VatVas Dansorkes kort jou stem om ‘n Ghoema te wen

7de Laan akteurs besoek skole landwyd waar daar klem op sosiale media afknouery en groepsdruk geplaas word. Volkies het behoorlik aan die akteurs se lippe gehang en die boodskap het hard en duidelik tot elkeen deurgedring. Die waarde van die akteurs se vertellings het ‘n permanente indruk op elke persoon in die saal gemaak.

 

Theodore Jantjies (Xander) het die Volkies kort-kort laat skaterlag met sy grappe en staaltjies. Leerders het elke woord van die akteurs ingeneem en waardevolle wenke het ‘n blywende indruk op elke leerder gemaak.

 

Mev Nellie Rossouw is beslis nou elke Volkie se ‘hero’ omdat sy hierdie geleentheid georganiseer en moontlik gemaak het.

 

Follow us on:

Related Articles

Back to top button