Local newsNews

Bekende tydskrif se redakteur deel wenke met plaaslike jagters

Lede van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Heidelberg-tak het die redakteur van die SA Jagter tydskrif Koos Barnard behoorlik met vrae gepeper tydens sy besoek by die tak.

Die Heidelberg-tak se maandelikse ledevergadering is deur Zet Robberts (voorsitter) op 7 Maart by Heidelberg Gholfklub tot orde geroep waarna Koos Barnard aan lede voorgestel is.

Tydens die geleentheid is lede die kans gebied om vrae aan die ervare Barnard te rig. Hy het wenke rakende ammunisie en jagtoerusting  gedeel en deur die aand is baie raad  uitgeruil. Barnard het ook verduidelik waarom die Koedoe en Springbok ‘n ideale teiken vir jag is en en watter kaliber geweer gebruik moet word indien jy ‘n suksesvolle jagtersloopbaan wil hê.

Volgens Barnard is een van die eerste vereistes tot ‘n suksesvolle jagloopbaan om seker te maak dat jy met die regte vrou trou, aangesien jagters dikwels vir lang tydperke op ‘n slag in die bos kan wees. Barnard het die 308 as beste kaliber jaggeweer uitgewys. Hy het lede aangeraai om eerder nie teleskope te gebruik indien hulle nie evare jagters is nie. Dit is dus belangrik om eers die kernfunksie van die geweer en skietproses te verstaan. Wenke rakende benadering van diere is ook uitgelig en Barnard meen dat dit beter is om jagtogte te voet aan te pak.

Deur die aand het Barnard opwindende jagverhale met die gehoor gedeel en hulle kan uit sy ervaring reeds na die volgende jagseisoen uitsien.

Die tak vergader weer op 4 April.

Vir meer inligting kan Robberts by 082 320 6631 geskakel word.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button