Local newsNews

Van der Walt-egpaar vier 62 gelukkige huweliksjare saam

HERAUT het die egpaar kort na die viering van hul 62ste huweliksherdenking by hul kleinhoewe op Holgatfontein besoek.

NIGEL – Waar Tjaart en Malie van der Walt langs mekaar op ‘n antieke bal-en-kloupoot rusbank vir die kamera sit en glimlag, spreek hul gesigte van wedersydse liefde en respek.

HERAUT het die egpaar kort na die viering van hul 62ste huweliksherdenking by hul kleinhoewe op Holgatfontein besoek.

Hulle is op 26 Januarie 1957 vanuit die Hervormde Kerk in Nigel deur Ds Van Niekerk in die eg verbind en onthou die dag toe hulle mekaar die eerste keer by Malie se ouerhuis op die plaas Frisgewaagd ontmoet het, soos gister. Volgens Tjaart was hy dadelik verlief, maar Malie (toe nog ‘n hoërskool leerder) het sake blykbaar nie so maklik gemaak nie en dit het Tjaart ‘n paar jaar van vlerksleep gekos voor hulle maats geraak het.

Malie het haar skoolloopbaan by die destydse Saamstaan en Bou Skool begin en by Nigel Hoërskool afgesluit, terwyl Tjaart ‘n leerder van die ou Klipskool was.

Na skool het Tjaart as klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë aangesluit, waarna hy na KwaZulu-Natal verplaas is, maar het later bedank en by die destydse Nigel Myn begin werk. Gedurende 1955 het hy ‘n pos by Marievale Myn aanvaar, tot in 1976 toe hy by Hartebeesfontein Myn in Stilfontein begin werk het. Gedurende hierdie tyd is hy en Malie, wat intussen by die groonhandelaar Bingo en Nigel Munisipaliteit se telefoonsentrale gewerk het, getroud. Drie kinders is ook uit hul huwelik gebore en na 16 jaar diens het Tjaart in 1992 afgetree. Malie het by hom aangesluit en die egpaar het terug verhuis na Nigel.

“Enige huwelik verg harde werk. Vir ons was daar heelwat hoogtepunte sowel as laagtepunte, maar behoorlike kommunikasie en opregte waardering vir mekaar is belangrike faktore om ‘n sukses van ‘n huwelik te maak,” het die egpaar hul advies gedeel.

Van die hoogtepunte wat hulle onthou was die geboorte van hul kinders – veral die eerste seun in die familie, maar daar was ook ‘n laagtepunt wat vir jare soos ‘n donker kombers oor hulle gehang het. Hul tweede seun is as baba met ‘n hartdefek gediagnoseer en teen die ouderdom van vyf jaar moes hy dringend sjirurgie ondergaan. Vir ‘n jong getroude egpaar was dit ‘n behoorlike vuurdoop, maar wanneer hulle vandag terugkyk, besef hulle dat beproewinge mens ook versterk en beter toerus vir die pad vorentoe. Vandag is dié seun ‘n blakend gesonde man.

Die egpaar hou hulself bedags op die hoewe besig – Malie is ‘n bedrewe kok terwyl Tjaart graag in die tuin werk en met ‘n paar skape en hoenders boer.

“Ek ry self my trekker wanneer dit nodig is en bestuur my eie motor wanneer ons iets van die dorp af benodig,” het Tjaart gespog.

Hoewel Malie met ‘n ou rugkwaal sukkel en deesdae ook van borspyn as gevolg van osteoporose kla, is die egpaar relatief gesond en onthaal nog gereeld kuiergaste en sien ook uit na gereelde besoeke van hul kinders en kleinkinders.

 

Volg ons op:
Facebook Twitter

Related Articles

Back to top button