Local newsNews

Waterpype bars een na die ander

Heidelberg se sypaadjies, strate wys presies hoe ernstig die probeem is

Sedert verlede Dinsdag (29 Januarie) het ten minste tien waterpype net in HERAUT se direkte omgewing gebars.

 

Die eerste waterpyp het op 29 Januarie (Dinsdagoggend) in Maraisstraat (naby die Du Preezstraat kruising) gebars. Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se werkers was vinnig op die toneel en herstelwerk was enkele ure later afgehandel.

 

Vrydagmiddag (1 Februarie) het HERAUT ook verneem van ‘n waterpyp wat in Overkruin gebars het en LLM werkers tot 19:00 besig met herstelwerk.

 

Op Saterdag (2 Februarie) het VYF waterpype in Maraisstraat deur die loop van die dag gebars. LLM werkers moes terugkeer na sekere herstelde pype etlike ure later nadat lekkasies weer plaasgevind het.

 

Sondagoggend (3 Februarie) was dit Pretoriusstraat se beurt toe ‘n waterpyp gebars het skuins oorkant die perseel van Hunters. Pretoriusstraat is net een straat weg van Maraisstraat.

 

Op Maandagoggend (4 Februarie) het HERAUT opgemerk dat water uit die padoppervlak stroom in die middel van die kruising by Pretorius- en Ueckermannstraat.

 

Die res van Maandag (gister) het etlike ander waterpype gebars – weer in Maraisstraat; asook in Jordaanstraat (op die hoek van Jordaan- en Ueckermannstraat) en gisteraand net na 19:00 het nog ‘n waterpyp die gees gegee op die hoek van Fenter- en Jordaanstraat!

 

Dit bring waterpype wat bars op meer as 10 en dit in minder as een week!

 

Lesedi Plaaslike Munisipaliteit sal moet dringend verduidelik wat aangaan in Heidelberg. Dit is duidelik dat die stelsel gaar is en dringende herstel- en vervanging van die ondergrondse watersisteem nie langer uitgestel kan word nie.

 

HERAUT moet Lesedi se Customer Call Centre groot lof gee vir die puik werking van hierdie inbelsentrum. HERAUT het self vier gebarste pype oor die naweek aangemeld by die inbelsentrum – tel nr 016 330 0400. Die fone is elke keer vinnig en professioneel geantwoord en werkers was binne 30 minute op die aangemelde plek en besig met herstelwerk.

 

Alle inwoners word gevra om die nommer 016 330 0400 op hul selfone te stoor en sou jy verby ‘n gebarste waterpyp ry, rapporteer dit onmiddelik! Moenie aanvaar iemand anders het die reeds aangemeld nie – doen dit self sodat ons almal kan poog om die vermorste water tot die minimum te beperk.

 

HERAUT vra dat inwoners asb op ons Facebook blad gebarste waterpype ook sal aanmeld (nadat jy dit by LLM rapporteer het) sodat ons meer volledige inligting oor pype wat bars kan saamstel.

 

Hieronder verskyn ‘n klomp fotos van waterpype wat gebars het oor die afgelope ses dae. LET WEL: dit is slegs dié waarvan HERAUT bewus is wat naby aan HERAUT se kantore gebars het.

 

Die meeste foto’s is net oor die afgelope 48 uur geneem.

 

Volgens ‘n inwoner wat ‘n drukmeter in sy erf het, het hy op Maandag 4 Februarie in die middedorp die waterdruk in sy waterpype op sy erf getoets. Die toets het gewys dat die drukking 10 bar was. Volgens kenners kan Heidelberg se waterpype nie so hoë drukking weerstaan nie, en behoort die druk nie meer as 7 tot 8 bar te wees nie.

 

 

 

Volg ons op:
Facebook Twitter

 

Related Articles

Back to top button