36 Jaar agter tralies vir “briljante” skyn-dokter

Verskeie hospitale waar hy diens gelewer het, het hom selfs as ‘n “briljante dokter” beskryf.

NIGEL – Puik speurwerk deur A/O Wilkie Wilkinson van Nigel Speurtak het tot die suksesvolle vervolging van ‘n man wat hom vir jare as ‘n mediese dokter voorgedoen het, gelei.

Die 31-jarige Jabulani Amos Mthimkulu  (bekend as die skyn-dokter) is op 6 Desember deur landdros Juan Voogt in Nigel Streekshof tot 36 jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy op 12 klagtes (waaronder twee klagtes van bedrog) skuldig bevind is. Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat Mthimkulu onder ‘n ander mediese dokter se identiteit gepraktiseer het. Verskeie hospitale waar hy diens gelewer het, het hom selfs as ‘n “briljante dokter” beskryf.

A/O Wilkinson was sedert 2014 op die spoor van die skyn-dokter tot hy hom in Februarie 2017 vasgetrek het. Mthimkulu was by Nigel Korrektiewe Dienste aangehou, maar kort ná sy arrestasie het hy met behulp van ene Antoinette Khalumbo, probeer ontsnap. ‘n Verhoorafwagtende gevangene wat geregtig was om op R500 borg vrygelaat te word, maar dit nie kon bekostig nie, is deur ‘n ander gewoontemisdadiger genader met ‘n voorstel dat sy tronkkaart gebruik word om die skyn-dokter te help ontsnap. In ruil daarvoor sou hy met ‘n betaling van R1000 vergoed word.

Na verskeie dreigemente het die gevangene ingestem en daarna het Khalumbo die skyn-dokter in die tronk besoek. Sy het teenoor korrektiewe personeel aangedui dat sy die R500 sou betaal namens die gevangene wat nie sy borggeld kon bekostig nie, maar toe die gevangene se naam uitgeroep word, het die skyn-dokter met sy tronkkaart na vore gekom. Dit was tydens die prosessering van duimafdrukke dat korrektiewe personeel besef het dat daar fout is. Mthimkulu is daarna na ‘n maksimumsekuriteit tronk oorgeplaas en poging tot ontsnapping en sameswering is by sy vorige bedrogklagte gevoeg.

Streekshofaanklaer Bradford Dias het aan die hof voorgehou dat die beskuldigde se weergawe van die begin af oneerlik en gefabriseer was en die rekord van gebeure in die saak vir hulself spreek.

“Die beskuldigde se getuienis is onbetroubaar en sy geloofwaardigheid van so ‘n slegte aard dat die hof hierdie feit nie mag ignoreer nie. Die beskuldigde het deurlopend sy weergawe verander, nadat hy reeds onder kruisondervraging uitgevang is. Die optrede en gedrag het ‘n karaktereienskap aangedui wat probeer om ‘n legkaart van sy vervaardigde verhaal saam te stel, maar soos alle leuens uiteindelik doen, verkrummel dit onder die druk van eerlikheid en feite,” het Dias aan die hof voorgehou.

Hy het namens die staat voorgestel dat die hof die beskuldigde se getuienis verwerp. Nadat Mthimkulu skuldig bevind is, het landdros Voogt hom as volg gevonnis:

Klagte 1 (identiteitsdiefstal) – een jaar gevangenisstraf;
Klagte 2 (vervalsing van identiteit) – twee jaar gevangenisstraf;
Klagte 3 – (uitgifte) – een jaar gevangenisstraf;
Klagte 4 – (uitvoer van dade as mediese dokter terwyl hy nie ‘n geregistreerde dokter is nie) – een jaar gevangenisstraf;
Klagte 5 – (bedrog) 15 jaar gevangenisstraf;
Klagte 6 – (identiteitsdiefstal) een jaar gevangenisstraf;
Klagte 7 – (vervalsing van identiteit) twee jaar gevangenisstraf;
Klagte 8 – (uitgifte) een jaar gevangenisstraf;
Klagte 9 – (uitvoer van dade as mediese dokter terwyl hy nie ‘n geregistreerde dokter is nie) een jaar gevangenisstraf;
Klagte 10 – (bedrog) 15 jaar gevangenisstraf;
Klagte 11 – (voorgee as mediese dokter)  een jaar gevangenisstraf; en
Klagte 12 – (poging tot ontsnapping) vyf jaar gevangenisstraf.

Die vonnis ten opsigte van klagtes een tot vier, asook ses tot nege is samelopend tot klagte 5, wat beteken dat Mtimkulu effektief tot 36 jaar tronkstraf gevonnis is.

 

Follow us on:
Facebook      Twitter

Exit mobile version