Woefies soek ‘n huisie

Diere kan aangeneem word teen ‘n bedrag wat sterilisasie of kastrasie asook eerste inenting insluit.

HEIDELBERG – Daar is ‘n groot verskeidenheid honde en katte by Heidelberg DBV wat hierdie feesgety eerder by nuwe tuistes wil spandeer.

Diere kan aangeneem word teen ‘n bedrag wat sterilisasie of kastrasie asook eerste inenting insluit.

Sou jy egter nie ‘n troeteldier kan aanneem nie, maar jy wil op ‘n ander wyse bydra, het Heidelberg DBV verskeie projekte wat ondersteuning benodig. Diereliefhebbers en besighede kan ‘n hok teen R100 per maand of R1200 per jaar borg. Pragtige kalenders is teen R50 elk beskikbaar.

Heidelberg DBV het díe terrier kruising met ‘n gekombineerde swart en ligbruin (tan) kleur vir aanneming beskikbaar gestel. Die tefie is vriendelik en haar pels is medium lengte en sy is klein gebou. Sy het baie liefde om te gee vir die regte persoon wat haar sal waardeer.

Losies vir diere word ook aangebied by Heidelberg DBV sou eienaars met vakansie gaan. Die dier moet ouer as ses maande wees en sy inentings op datum. Die losies is slegs vir diere van eienaars wat lede van die DBV is, teen R50 per jaar lidmaatskap.

Die gemeenskap kan verder help deur donasies van hondekos, katkos, komberse, honde bedjies, jassies, speelgoed en kombersies te maak.

Dachshund liefhebbers sal bly wees dat Keojo beskikbaar is vir aanneming. Hy is ‘n swart met bruin spatsel (tan) worshond wat in ‘n baie goeie toestand is. Hierdie reun is twee jaar oud met ‘n gladde pels en lang stert. Hy is klein gebou en goed met kinders en wag vir die regte gesin om hom aan te neem.

Heidelberg DBV sal van 23 tot 26 Desember asook 30 Desember tot 2 Januarie gesluit wees.

Sou u dier wegraak, meld dit by Heidelberg DBV aan. Diere eienaars kan die DBV se noodnommer 071 994 9960 skake.

Die kantoor-ure nommer is 016 342 4114.

Follow us on:

         

Facebook      Twitter

Exit mobile version