Prinsloo vertel van sy nagmerrie ondervinding toe drie hom in tuin oorval

Chris Prinsloo, ‘n 78-jarige inwoner van Walkerstraat Rensburg, is gelukkig om te leef nadat hy deur drie verdagtes oorval en beroof is.

Die voorval het omstreeks 11:15 op 31 Oktober plaasgevind toe Prinsloo besig was om in die tuin te werk.

 

“Ek het stemme agter my gehoor en so skuins oor my skouer gekyk toe ek drie mans opmerk. Een het homself as ‘n voornemende koper voorgedoen en gesê hy sien my huis is in die mark. Die volgende oomblik het ‘n ander een my van agter om die lyf beetgekry en hulle het my aan die arms die huis ingesleep,” het Prinsloo die gebeure onthou.

 

In die gang tussen die kombuis en slaapkamers, het die rowers Prinsloo se hande en voete met gordels vasgebind en hom daarna in ‘n slaapkamer toegesluit.

 
“Ek kon hoor hoe hulle deur die huis beweeg en later het ek gehoor hoe hulle my Bantam bakkie wat in die motorhuis parkeer was, aansluit.” Die verdagtes het met Prinsloo se bakkie, ‘n televisie en sy horlosie gevlug. Eers toe Prinsloo seker was dis veilig, het hy sy hande en voete losgewikkel en deur ‘n venster geklim om hulp te ontbied.

 

“Gelukkig het hulle nie die kontant in my broeksak of selfoon in my hempsak gekry nie en hulle het my nogal deursoek,” het Prinsloo vertel.

 

Lede van Rensburg GPF was binne minute op die toneel, gevolg deur Heidelberg Polisie en ondanks ‘n gesamentlike soektog wat deur lede van die GPF van stapel gestuur is, kon hulle nie Prinsloo se bakkie opspoor nie.

 
Prinsloo is dankbaar dat hy ongedeerd daarvan afgekom het, maar het aan HERAUT gesê dit was die vyfde keer dat ‘n voertuig van hom gesteel is.

 

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

Exit mobile version