Local newsNews

Wat is jou storie Yamadori?

Yamadoris word uit die natuur verwyder, waarna dit vir twee jaar in ‘n pot groei voor die boom in ‘n bonsai-styl gesnoei kan word.

HEIDELBERG – Suikerbos Bonsai Kai het die BRAT (Bonsai Regional Association of Transvaal) se opedag op 29 September Heidelberg aangebied.

Die opedag word drie-maandeliks aangebied waar bonsais vertoon en bonsai tegnieke demonstreer word.
Sowat 130 belangstellendes van klubs oor Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga het kom kyk hoe bedrewe bonsai entoesiaste yamadoris in bonsais omtower.

Org Exley, Fancois Viljoen, Brett Simon, Gary Howes, Hannes Fritz en Stefan Pretorius het gedemonstreer hoe om yamadoris van Wilde Olyf, Karoo Boerboonboom en Muishondbos in verskillende bonsai-style te snoei en te vorm soos Literati of Shakan.

Yamadoris word uit die natuur verwyder, waarna dit vir twee jaar in ‘n pot groei voor die boom in ‘n bonsai-styl gesnoei kan word. Die deskundiges het eers die bome gesnoei en die hout gekerf voordat oorblywende takke met draad gemanipuleer is. Die bome is ten laaste verpot. Die demonstreerders het wilde bosse binne oomblikke in kunstige bonsais verander.

Org Fritz het voorbeelde van vetplante wat as aksentplante saam met bonsais gebruik kan word gewys. Die tipe boom, aksentplant en potjie moet inpas en in harmonie wees.

Yamadoris groei wild in die natuur en Pierre Naude het raad gegee oor hoe om die bome eties en met die minimum skade te verwyder.
Besoekers kon hul bonsais tentoonstel, waarna deelnemers vir die mooiste bonsai gestem het. Die wenner van bonsais in die kleiner as 30cm afdeling is Hennie Reyneke en Deon Rynders het eersteplek met sy Akkerboom in die bonsais groter as 30cm afdeling verower.

Die besoekers het Wildevy, Tambotie, Bougainvilla, Jenewerbessie, Witstinkhout en Eike bonsais uitgestal wat in verskillende bonsai-style gevorm is. Die gemiddelde ouderdom van die bonsais was 10 jaar.

Besoekers kon die vetplante en bonsais in Hannes en Org se tuine tussendeur die praatjies en demonstrasies bewonder.

Die volgende Suikerbos Bonsai Kai vergadering is op 27 Oktober om 12:00 op die plaas Eendracht. Belangstellendes kan Hannes Fritz by 079 502 2972 skakel.

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button