Local newsNews

Ongeluk slagoffer in ernstige toestand in Natalspruit Hospitaal

Haar man het nie ongedeerd van die ongeluk afgekom nie en verkeer tans in die intensiewesorg eenheid van Natalspruit Hospitaal.

So het Petro Grobler aan HERAUT vertel ná publikasie van die voorbladberig op 17 Oktober (Beloved police captain Tshilate escapes serious injury in crash) waarin daar berig word oor die ongeluk toe Heidelberg SAPD se Kaptein Tshilate met ‘n ander voertuig op die R42 net buite Nigel gebots het.

Petro sê sy het ten tye van die ongeluk aan die passasierskant gesit. Hoewel erg gekneus, is sy minder ernstig beseer, maar haar man Paul (60) het verskeie frakture (waaronder ‘n beenfraktuur asook gebreekte ribbes) opgedoen.

“Weens breinskudding kan hy niks van die ongeluk onthou nie. Intussen het hy ‘n longinfeksie opgedoen en die dokter het hom na die intensiewesorg eenheid oorgeplaas,” het sy gesê.

Volgens Petro wou Paul omdraai om ‘n vriendin met motorprobleme langs die pad behulpsaam te wees.

“Paul het in albei rigtings gekyk en nog vir my gesê dit is veilig om die pad oor te steek, aangesien daar geen onmiddellike gevaar van aankomende verkeer was nie. Hy het net begin ry toe ons skielik ‘n motor sien, gevolg deur ‘n geweldige impak.”

Petro sê dat reddingswerkers verbonde aan Nigel Nooddienste die gebruik van meganiese toerusting moes inspan om haar man uit die motorwrak te bevry. Hy is eers per ambulans na Heidelberg Hospitaal vervoer, maar weens die aard van sy beserings wat gespesialiseerde sorg en behandeling verg, is hy later na Natalspruit Hospitaal oorgeplaas.

HERAUT het op 22 Oktober van Petro verneem dat Paul weens die aard van sy beserings in die waakeenheid van die hospitaal onder sedasie geplaas is.

“Verdere skanderings sal later die week by die Charlotte Maxeke Hospitaal uitgevoer word om die ware omvang van sy beserings asook die pad vorentoe te bepaal,” het Petro verduidelik.

Onseker oor hoe lank haar man nog in die hospitaal sal wees, is Petro intussen op die hulp van haar kinders en familievriende aangewese om oor die weg te kom en het sy die hoop uitgespreek dat Paul mettertyd volkome sal herstel.

 

Reddingswerkers verbonde aan Nigel Nooddienste het die gebruik van meganiese toerusting ingespan om Paul Grobler uit die motorwrak te bevry, nadat hy op 12 Oktober in ‘n botsing met ‘n polisievoertuig betrokke was.

 

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

Related Articles

Back to top button