CrimeNews

Misdaad in Heidelberg ‘n onaangename werklikheid wat ernstig aangespreek moet word

Hy het te voet gevlug toe Tania wakker word en die donker figuur in haar kamer opmerk.

“So word ek 02:45 vanoggend wakker met ‘n verdagte wat in my kamer staan. My selfoon en skootrekenaar is gesteel.”

So lui die inskrywing wat Tania Snyman op sosiale media gemaak het nadat ‘n inbreker in die vroeë oggendure op 20 Oktober toegang tot hul huis gekry het sonder om ‘n venster te breek. Volgens Tania se man Parker het die boef deur die badkamervenster se diefwering geklouter en deur die huis beweeg waar hy homself met kontant uit die egpaar se beursies, ‘n selfoon en skootrekenaar gehelp het. Hy het te voet gevlug toe Tania wakker word en die donker figuur in haar kamer opmerk. Hoewel niemand tydens die voorval beseer is nie, is Parker bekommerd. Hy het aan HERAUT gesê dat ‘n soortgelyke voorval verlede jaar ook by hul huis plaasgevind het en dat hy nou sekuriteit in en om sy huis gaan opskerp.

“Dit is raadsaam om items soos skootrekenaars en beursies snags weg te pak sodat dit buite bereik van inbrekers is. Belê ook in infrarooi sensors (beams)  om sekuriteit op te skerp,” het Snyman voorgestel.

David van As, voorsitter van Rensburg GPF het ook ‘n ernstige beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan in die stryd teen misdaad.

“Ek rapporteer oor Heidelberg se misdaad in die algemeen en dit sluit Rensburg spesifiek in. Oor die afgelope ses weke was daar ‘n beduidende toename oor ‘n breë spektrum van misdade met meer as 30 aangetekende huis- en besigheidsinbrake, meer as 10 gewapende rowe, verskeie motorkapings (veral op die N3 snelweg), diefstal van voertuie en diefstal uit voertuie,” het hy gesê.

Oor die afgelope vier weke het Rensburg onder meer as vyf huisbrake, asook verskeie huis- en besigheidsrowe en diefstal van en diefstal uit motorvoertuie deurgeloop.

Volgens Van As kan daar gevolglik afgelei word dat Heidelberg ‘n maklike teiken van misdaad en misdadigers geword het.

“Misdaad gebeur enige dag, enige tyd en daar is net te min SAPD-lede om alleen ‘n verskil te maak. Daar is ook te min polisie voertuie om die strate en woongebiede gereeld te patrolleer,” het hy bygevoeg.

Volgens Van As geniet die GPF oor die algemeen swak ondersteuning en is daar min belangstelling deur inwoners om betrokke te raak.

Hy het verder uitgelig dat weens gebrekkige belangstelling en ‘n tekort aan fondse (veral met die gereelde brandstof prysverhogings), is daar deesdae ook minder GPF patrolleerders beskikbaar.

“Ek is bevrees dat, sou ons nie ‘n daadwerklike poging aanwend om ‘n duidelike boodskap aan kriminele uit te stuur dat ons nie die huidige misdaad tendense aanvaar nie en as ons nie bereid is om onsself te beveilig en teen gevare te beskerm nie, gaan ons die ronde verloor,” het hy gemaan.

Hy het die gemeenskap versoek om hande met die GPF te neem en saam ‘n verskil te maak.

Inwoners word ook daarop gewys dat enige vorm van misdaad (ongeag die erns daarvan) dadelik by die polisie aangemeld behoort te word sodat meer polisievoertuie en mannekrag deur die regering beskikbaar gestel kan word. Wanneer misdaad nie gerapporteer word nie, blyk dit egter of die betrokke dorp nie bykomende mannekrag of ekstra polisievoertuie benodig nie en trek ‘n ander polisiestasie moontlik voordeel daaruit.

Inwoners wat by enige van die onderskeie polisieforums in Heidelberg wil aansluit, kan vir Van As by 083 391 5448 skakel.

 

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

Related Articles

Back to top button