Local newsNews

Borskankermaand – Kanker kan oorwin word

Die sukses van behoudende chirurgie en doeltreffender behandelingsmetodes om verspreide borskanker te hanteer, het bygedra tot 'n baie beter borskankeroorlewingsyfer as in die verlede.

Oktober is bekend as Borskankermaand en gedurende hierdie tyd loods die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) verskeie projekte landwyd ter ondersteuning van kankerlyers en bewusmaking oor dié gevreesde siekte.

Plaaslike inwoner Tonien Botha ondersteun dié bewusmakingsprojekte heelhartig en het openlik met HERAUT oor haar onlangse stryd teen borskanker gepraat. Sy het ander vroue aangemoedig om gereeld vir borsondersoeke te gaan en selfs ‘n tweede of derde opinie te kry, ongeag die aanvanklike diagnose.

Dié 68-jarige oud-onderwyser is gedurende Februarie 2017 met borskanker gediagnoseer, nadat sy gedurende November die vorige jaar ‘n klein knoppie in haar linkerbors ontdek het. Sy het haar ginekoloog tweekeer besoek en telkens het hy haar gerus gestel en gesê die knoppie in haar bors is nie ‘n aanduiding van ‘n kankergewas nie, aangesien dit onder sy aanraking beweeg.

Volgens Tonien is sy ‘n hoë risiko geval. Haar ma het in die ouderdom van 49 jaar weens servikale kanker gesterf en daar was tekens van kanker by ander familielede. Sy het dus lank voor die amptelike diagnose wat deur ‘n biopsie bevestig is, geweet die knoppie in haar bors is kwaadaardig.

“’n Mens se liggaam sê eintlik vir jou daar is fout. Vertrou jou instink,” het sy gesê.

Tonien het bygevoeg dat sy jarelange hormoonvervangingsterpie ontvang het en maan vroue om ‘n geneesheer oor die langtermyn voor- en nadele daarvan te spreek.

Na haar borskanker diagnose het sy ‘n mastektomie ondergaan, gevolg deur maande van chemoterapie en bestraling. Terwyl Tonien nog besig was om teen die gevreesde siekte te baklei, het ‘n tweede skok die Botha-egpaar getref. Haar man Chris is gedurende haar behandelings tydperk ook met ‘n kwaadaardige bloedsiekte – Akute Myeloed Leukemia gediagnoseer en het skaars vyf maande later die stryd verloor.

“Dit was ‘n bitter moeilike tyd, maar ten spyte van alles kon ek heeltyd God se kalmte en vrede binne my voel. Eintlik was ek rustig en kalm nog voor die amptelike diagnose gemaak is. God het vir my die krag gegee om teen kanker te baklei en ek het nooit regtig toegelaat dat die siekte my beheer nie,” het sy aan HERAUT gesê.

Tonien het gedurende Januarie tydens ‘n opvolgbesoek die goeie nuus ontvang dat die kanker in remissie is. Dit is tydens ‘n roetine ondersoek in Junie herbevestig.

“Vroeë diagnose is die sleutel tot suksesvolle behandeling. Ondersoek jouself gereeld en indien jy onseker of ontevrede is, kry ‘n tweede opinie – dit kan dalk net jou lewe red,” het sy gemaan.

Borskanker is ‘n kwaadaardige gewas wat ontstaan weens die ongekontroleerde en onbeheerste groei en vermenigvuldiging van ‘n sel in die bors wat ‘n reeks mutasies (veranderings) ondergaan het. Hoewel die gewas aanvanklik net die bors affekteer, kan borskanker versprei wanneer selle uit die gewas ontsnap en deur die bloed en limfstelsel versprei na ander dele van die liggaam soos die longe en skelet, waar dit vermenigvuldig en ander gewasse vorm.

Dié proses word metastase (uitsaaiing) genoem. Die belangrike ontdekking in die twintigste eeu dat kanker veroorsaak word deur ‘n reeks fundamentele genetiese foute in ‘n enkele sel, het grootliks daartoe bygedra dat borskanker teen die einde van die twintigste eeu gestroop was van mistiek en bygeloof. Dit het ook bygedra tot die groeiende bewustheid onder vroue van die belangrikheid van selfondersoeke, vroeë diagnose en behandeling.

Die sukses van behoudende chirurgie en doeltreffender behandelingsmetodes om verspreide borskanker te hanteer, het bygedra tot ‘n baie beter borskankeroorlewingsyfer as in die verlede. Nietemin is dit steeds die siekte wat vroue die meeste vrees. Dit eis meer lewens van vroue tussen die ouderdomme van 35 en 50 jaar as enige ander siekte. Vroue kry ook meer borskanker as enige ander vorm van kanker.

Vroeë borskanker vertoon gewoonlik nie simptome nie, maar soos die gewas groter word, kan die bors anders begin lyk of voel.

Lyk of voel jou borste anders? Hier is tipiese veranderinge waarvoor jy op die uitkyk moet wees:

  • knop of verdikking in of naby die bors of in die armholte;
  • ’n verandering in die vorm of grootte van die bors;
  • duike of rimpels in die borsvel;
  • tepel wat na binne inkeer;
  • abnormale afskeiding van die tepel;
  • skubberigheid, rooi of geswelde vel op die bors, tepel of areola (die donker deel rondom die tepel) en
  • verandering in velvoorkoms – vel van die bors wat soos lemoenskil lyk of voel.

Vir meer besonderhede skakel KANSA se tolvrye nommer by 080 022 6622 vanaf 08:00 tot 16:30 Maandae tot Vrydae.

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button